News

Ek sê maar net… Hul Pa’s het nie ‘n kans nie

RUBRIEK - Die drie jonge dames geniet dit nie net om te dans nie, hulle vertel ook graag stories.

RUBRIEK – 29 Januarie. Pa verjaar. Hy sou 76 gewees het, as hy nog die aarde bewandel het. Vroegoggend kom die boodskappe deur. Familie wat onthou.

Ek is amper laat vir my eerste onderhoude vir die dag en storm by Laerskool D.F. Malherbe se voorportaal in. Sien dit dadelik. Die vier brandende kerse met die vier afgestorwe leerders se foto’s. Die Driehoek brugramp slagoffers.

Ek sluk verby die knop in my keel en gaan gesels met die skoolhoof. Ou skoolvriend. Teen die tyd wat die drie dansers insluip is my gemoed heelwat ligter.

Ons is veronderstel om te gesels oor die internasionale danskompetisie waarvoor hulle gekwalifiseer het. Die drie is duidelik lus om oor ander dinge te gesels.

Eerstens is hulle baie verlig om te hoor hulle is nie geroep omdat hulle in die moeilikheid is nie. “Die koerant? Skoolkoerant of ‘n regte een?” vra Milané. “Vaalweekblad,” beduie ek. Hulle is beïndruk.

Skuif nader en die groot gesels begin. Hulle draai by al die diere wat hulle aanhou en dan by hul pa’s.

“My pa het net nou die dag buite op die bankie, wat hy self gemaak het, gaan sit. Toe sê ek vir hom die hond het ‘n bosluis en toe sê hy, ek het nou net kom sit, kon jy my nie vroeër gesê het nie,” is Milané aan die woord en die ander twee kraai van die lag.

Zanté het ook ‘n staaltjie te vertelle. “Elke keer as my pa gaan sit om te rook, dan sê M my ma hy moet iets doen. “Dan sê hy kan ek nie net vir ‘n paar sekondes in vrede sit nie?”

Dis duidelik die drie is groot maats en ken mekaar se huisgesinne. Hulle lag en vertel stories.

Raak aan die stry oor hoe lank hul op die kompetisie boot gaan wees en presies hoe groot die swembad op die boot is.

“Nou wat nou van jul skoolwerk?” waag ek.

“My juffrou het vir mamma gesê sy gaan werk saamgee. Ek gaan dit sommer op een slag doen.”

“Ag nee, ek gaan my maats en my skoolwerk mis.”

“Toemaar dis net ‘n week.”

“Gaan tannie ‘n foto neem? Het ons ‘n kamera om ‘n foto te neem?”

Die drie skarrel om voor D.F. se 60 jaar banier plek in te neem. Ek wys vir hul die foto’s.

Tevrede verdwyn hul opgewonde om die hoek klas toe. Voorwaar ‘n trio om mee rekening te hou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button