Kom ons staan saam om dié ‘doodspad’ te beveilig
Met genoeg ondersteuning uit die gemeenskap kan hier beslis 'n verskil gemaak word!
Vaalweekblad het deur die jare al dikwels gerapporteer oor motoriste en voetgangers wat baie erg beseer is of hul lewe verloor het op die Stokkiesdraai/Ravelpad aan die buitewyke van Vanderbijlpark.
Nadat ‘n jong man, Jannes Grundling, in Desember 2024 ook hier gesterf het, het van sy familie en vriende gevra of Vaalweekblad betrokke kan raak om druk op die owerhede te plaas om die pad te beveilig. Dis veral snags ‘n baie donker en gevaarlike roete. Die pad se teeroppervlak benodig aandag en die sperstrepe kort nuwe verf. Waarskuwingsborde kan moontlik verdere help om ongelukke te voorkom.
Sakemense of die familie en vriende van slagoffers wat hier beseer of gedood is, kan Vaalweekblad gerus laat weet as julle jul name by so ‘n aksie wil voeg. Kontak Vaalweekblad asseblief by 083 246 0523 as jy betrokke wil raak, of as jy of ‘n geliefde ook hier in ‘n ongeluk betrokke was. Met genoeg ondersteuning uit die gemeenskap kan hier beslis ‘n verskil gemaak word om verdere tragiese ongelukke te voorkom.

