News

Juffrou Luzaan na waakeenheid gehaas weens dreigende koma

Haar broer is op die ouderdom van 32 aan diabetes oorlede, maar sy het nie geweet dat syself ook 'n lyer is nie.

 

‘n Jong onderwysers van Vaalpark is verlede Maandag uit ‘n plaaslike staatshospitaal na Mediclinic Vereeniging gehaas nadat sy simptome van akute suikersiekte en ‘n dreigende diabetiese koma getoon het.
Mev. Luzaan Thiart, ‘n onderwyseres van die Primêre Skool Lumière, is Saterdag, 18 Januarie, na die Sebokeng-hospitaal geneem nadat sy skielik erg siek geword het. Vir Luzaan en haar man, Jaundré, met wie sy in November verlede jaar getroud is, was dit ‘n traumatiese ervaring dat hy nie deur die hospitaalpersoneel toegelaat is om haar by te staan nie. Haar familie was ook baie bekommerd omdat haar suikervlakke en bloeddruk glad nie gemonitor is nie. Haar pa en Juandré het in ‘n stadium by ‘n geslote hospitaaldeur ingebreek om by haar uit te kom om seker te maak sy is versorg.

Haar toestand het in daardie stadium reeds verder versleg. Luzaan is uit die staatshospitaal uitgeteken en na Mediclinic Vereeniging vervoer, waar sy in die waakeenheid opgeneem is. Volgens Jaundré het sy in daardie stadium geveg om asem te kry en haar bloeddruk en suikervlakke het die hoogte ingeskiet. Haar liggaam was reeds in ‘n toestand wat gewoonlik tot ‘n diabetiese koma lei. Sy is by Mediclinic met diabetes gediagnoseer. Na vyf dae in die waakeenheid en nog ‘n ruk in ‘n gewone saal het sy in so ‘n mate herstel dat sy ontslaan kon word. Sy sterk nou tuis aan maar sal nog vir ‘n geruime tyd afgeboek wees.

“Luzaan voel steeds nie lekker nie en is maar baie depressief. Haar broer is op die ouderdom van 32 aan diabetes oorlede, maar sy het nooit besef sy is self ook ‘n lyer nie. Ons wag nog vir die uitslae van die bloedtoetse om vas te stel presies watter tipe diabetes sy het. Sy besoek nou ‘n diabetiese kliniek en haar suikervlakke word streng gemonitor,” sê Jaundré.

Aangesien die pasgetroudes nie ‘n mediese fonds het nie, is hulle self verantwoordelik vir die privaathospitaal se rekening. Hulle het reeds navraag gedoen om by ‘n mediese fonds aan te sluit, maar weens Luzaan se toestand sal daar ‘n 12-maande wagtydperk wees voordat haar diabetiese behandeling gedek sal word. Vriende het intussen ‘n Back a Buddy-rekening oopgemaak in die hoop om donasies te kry om haar huidige mediese uitgawes te betaal, aangesien dit steeds klim.

* Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan Luzaan se Back a Buddy-blad by https://www.backabuddy.co.za/campaign/juf-luzaan-thiart besoek, of kontak haar suster, Louise Radyn, by 072 045 8463 vir die direkte bankbesonderhede.

Luzaan Thiart en haar man, Jaundré, voordat sy siek geword het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button