News

Metaalstropers se brandende bande ‘n al groter probleem in die Vaal

"Ons probeer die oortreders blok, maar die volgende dag is hulle net terug op 'n ander plek," sê brandweerkenner.

VANDERBIJLPARK. – Talle inwoners het voorverlede naweek bekommerd by Vaalweekblad navraag gedoen oor ‘n groot swart rookwolk wat oor ‘n deel van die dorp gehang het.
Motoriste was die Saterdagmiddag eerste om die brand en enorme rookwolk langs die R59-snelweg by die Barrage-aansluiting te sien. Inwoners van die gebied het kort daarna by Vaalweekblad gekla dat hul oë en kele erg brand weens die rook. Volgens ‘n brandweerkenner van die Vaaldriehoek, wat versoek het om nie geïdentifiseer te word nie, was dit vermoedelik ou voertuigbande wat aan die brand gesteek is.

“Hierdie tendens word al meer in die Vaaldriehoek gesien – byna op ‘n daaglikse basis. Die oortreders ry bakkievragte ou bande na oop ruimtes in die Vaaldriehoek aan, waar hulle dit aan die brand steek. Hulle kom dan die volgende dag terug om die skoongebrande metaal wat in die bande was, op te tel en as skroot aan herwinnaars te gaan verkoop,” sê die kenner.

“Wanneer die brandweerdienste van so ‘n brand bewus word, ry ons mense dadelik uit om dit te gaan blus. Die munisipale afval-afdeling kom verwyder dan die skoongebrande metaaldrade. Ons probeer die oortreders op dié manier blok, maar die volgende dag is hulle net terug op ‘n ander plek.” Verskeie oop gebiede in die Vaaldriehoek word tans deur oortreders geteiken, veral in onbewoonde hoewegebiede waar hul bedrywighede nie vinnig opgemerk sal word nie. Tans is die gebied agter Samancor in Midvaal ook ‘n voorkeurgebied vir die oortreders.

“Dis ‘n probleem wat nie net in die Vaaldriehoek ervaar word nie, maar landwyd. Dit is seker maar ‘n gevolg van die hoë werkloosheid sodat mense toenemend op onaanvaarbare maniere probeer geld maak vir oorlewing. Ondernemings wat voertuigbande gratis aan sulke mense beskikbaar stel, is deel van die probleem. So ook die ondernemings wat hierdie soort skroot aankoop. Ons sal dit net kan stop as al die betrokkenes begin saamwerk,” sê die kenner.

Donker rookwolke soos dié een wat voorverklede naweek oor ‘n deel van Vanderbijlpark gehang het, word toenemend gesien. Dit is die gevolg van oortreders wat voertuigbande onwettig aan die brand steek om die metaal daarin te herwin. Foto: Ané du Plessis

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button