News

‘n Laaste groet aan Moeder…

'Die wete dat sy in die heel beste hande was, gee ons vrede.'

 

Bernardete de Abreu Brits van Vanderbijlpark deel hier haar hartroerende herinneringe aan haar geliefde moeder, wat onlangs na ‘n siekbed in die hospitaal oorlede is. Sy bedank ook namens haar familie almal wat hulle in dié hartseertyd op verskeie maniere onderskraag het:

En so het my moeder, Myrtle de Abreu, se tyd aangebreek om op die ouderdom van 84 huis toe te gaan.
Sy word oorleef deur haar man, Joe (José), vyf kinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind.
Graag wil ons dr. Dennis Agbazue en sy wonderlike span bedank vir hul deursettingsvermoë; hulle het nooit opgegee nie! Hul opregte omgee, empatie en deernis het ons regop gehou terwyl ons net wou gaan lê en opgee. Ek ken nie nog ‘n dokter wat so hard bid vir sy pasiënte nie! May God bless you guys abundantly for the amazing work you do.

CORMED Hospitaal… Wat kan ek sê, behalwe dat julle net die BESTE is!
ALMAL, van die sekuriteit in die parkeerarea, die vriendelike mense by ontvangs, die personeel by Ongevalle, ons nuwe ‘familie’ by Sale 1 tot 8, die vriendelikste portier, die teaterpersoneel…. tot die amazing mense by ICU wat ons in die laaste ure bygestaan het.

Julle was regtig soos familie! Ons het saam gelag, en ook saam gehuil. Julle het my moeder met soveel liefde en geduld behandel, selfs wanneer sy verskriklik moeilik kon wees. Dankie aan die mense wat gereeld by haar gaan sit en gesels het. En VERSKRIKLIK dankie aan die persoon wat die aangehegte nota by haar gelaat het voor haar finale operasie. Dit was sekerlik die heel lekkerste dat almal ons ‘taal’ gepraat het; almal is Christene wat gebed en Woord uit hul hart deel. Jul was nooit suinig met jul drukkies en gebede nie. Dit was awesome en ek kan nie genoeg dankie sê nie! Julle is net soooooo SPECIAL!

Wyle mev. Myrtle de Abreu van Vanderbijlpark.

Ons wil ook BAIE dankie sê aan dr. Van As en haar wonderlike span by Sub Acute 360 in Hendrik van Eck Blvd. Dankie dat julle my toegelaat het om vir Poppie (Wire Haired Jack Russel) en Clara (Morkey) te bring om bietjie vir hul ouma te kuier.
Aan die personeel by ER24 wil ons ook dankie sê vir jul hoogs professionele diens. Vinnig, vriendelik, bevoeg en deernisvol… Dankie!

Die diens gelewer deur Chiron Clinic (wound care), Ina Woodruff en Rosemarie word ook baie waardeer. Julle het tot reg aan die einde jul beste probeer. Ons sê DANKIE!

Ook ‘n opregte dankie aan Suryke (Arbeidsterapeut) en Liezl (Fisioterapeut). Julle het so mooi met ons moeder gewerk. DANKIE!
Julle het almal die heengaan van my moeder meer draaglik gemaak. En die wete dat sy in die heel beste hande was, gee ons vrede.

Weereens BAIE, BAIE dankie.

&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&

My moeder, Mechtelina Ingle de Abreu (néé Ahlers) is gebore in Dullstroom op 21 Oktober 1940. Sy was die tweede kind van vier.
Sy het in Belfast skoolgegaan waarna sy in Johannesburg as klerk by Barclays Bank begin werk het. Dit is waar sy amper 65 jaar terug my dad ontmoet het.
Saam het hulle in die laat 1950’s Vanderbijlpark toe gekom waar sy steeds in die bank gewerk het, en by dad as blokman by Faraday Butchery gewerk het. Hulle het in Pasteurhof gebly. In 1970 het my dad Keur Butchery gekoop en vinnig ‘n reputasie opgebou het as een van die skoonste besigheidspersele in die Vaal – met die beste kwaliteit vleis. My moeder was huisvrou.

Sy was ‘n streng ma en het nie slordigheid of luiheid enigsins geduld nie. Haar slipper en die paplepel was haar ‘weapons of choice’.

Ek onthou my ouerhuis as skoon, netjies en georden. Dit het altyd gelyk of niemand in ons huis bly nie. Daar was altyd die reuk van lekker kos en varsgebak. Sy was lief vir naaldwerk, brei, konfyte maak, vrugte inlê, kleinkoekies bak (haar gemmerkoekies was die heel lekkerste!), koeke bak en keurig versier. Sy was ‘n voorslag kok en gasvrou, en gaste was altyd bederf met net die heel beste.

Na al die kinders uit die huis uit is, het sy besluit om my dad by die slaghuis te gaan help. En daar sal mense haar onthou vir haar vriendelikheid; sy het altyd resepte uitgedeel en raad gegee oor die gaarmaak van spesifieke snitte. Vele vriendskappe is in daardie tyd gevestig. My dad moes weens gesondheidsredes Keur Slaghuis verkoop en my ouers het toe afgetree.

My moeder se laaste klompie jare was moeilik en sy was konstant in pyn. Sy het moeilik geloop. Lang periodes voor die kospotte was ‘n straf. Haar sig was besig om vinnig te versleg en duur prosedures was net geldmors, want niks het gehelp nie. Haar sig het so verswak dat sy nie meer kon brei of naaldwerk doen nie.

Haar hande het as gevolg van osteoartritis inmekaar getrek en dit het selfs ‘n maklike taak soos om ‘n koppie of ‘n glas vas te hou, amper onmoontlik gemaak. Sy was so gefrustreerd!
Op 6 September 2024 is ‘n knievervanging gedoen. Die vervanging was ‘n sukses, maar toe gebeur die ondenkbare… Sy val! Die knieskyf het losgeskeur en die enkel was gebreek. En wraggies val sy ‘n tweede keer! Ligamente het losgeskeur en haar knieskyf het aan die buitekant van die been gaan sit. Daarna het haar liggaam die prostese verwerp… En dit was die begin van die einde.

Ek WEET sy is nou by die Here… En vir seker is sy besig om vir Hom kos te maak…

Myrtle as jong meisie.

Nog ‘n foto van Myrtle as jong meisie.
Die De Abreu-egpaar by hul jongste seun, Amaro, met sy twee dogters, Gemma (heel regs) en Madison (agter).
Myrtle de Abreu met kleindogter Chanté, sowat 17 jaar gelede.
Agter: My dad, skoondogter Collette, en kleinseun Amaro. Voor: My moeder, agterkleinkind Arlindo, Amaro se vrou Lisa-Marie, en seun José. Hulle het geëmigreer na Madeira.
Wyle mev. Myrtle de Abreu in haar laaste dae, met haar man Joe en geliefde hondjies aan haar sy.
Op ‘n stadium is my dad ook by Cormed opgeneem. Die stress en verlange na sy beste maat was vir hom net te erg.
‘n Foto van VREDE! “Hierdie foto is geneem sowat 36 uur voor haar dood, net na sy haar hart vir die Here gegee het. Dit was ook die tyd toe ons die nota by haar bed gekry het. Hierdie bring vir ons enorme vertroosting!” sê Bernardete.
Die briefie wat langs Myrtle se bed gelaat is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button