Hoëveldse Tuine: ‘Is dít wat vir ons voorlê?’
Baie inwoners van Sasolburg is warm om die kraag oor dié besluit!
Baie Sasolburgers is omgekrap omdat die munisipaliteit glo beplan om die gewilde Hoëveldse Tuine, ‘n openbare park in die gebied, beskikbaar te stel vir private partytjies. Hier is een van die inwoners se klagte:
Hilda Herselman van Sasolburg skryf:
Ek verstaan dat die Metsimaholo-munisipaliteit die Hoëveldse Tuine in Sasolburg gaan omskep in ‘n “toegang voorbehou-area” waar die publiek toegelaat sal word om partytjies en lawaai te kom maak.
Nou is die vraag: Wat van die inwoners wat teenaan die veld bly? Gaan ons geken word in die saak? Want glo my, hier was al voorheen “party” gehou en broek losgemaak ten aanskoue van ons, om nie eens van die lawaai te praat nie. Sommige was slingerend onder die invloed van drank en van hulle het selfs in die pad gelê.
Is dit wraggies wat vir ons voorlê?
* Raadslid Frans van der Merwe van Wyk 14 sê die besluit om die Hoëveldse Tuine vir partytjies beskikbaar te stel, is eensydig geneem sonder dat hy of die publiek daarvan in kennis gestel is. Hy het reeds ‘n dringende gesprek met Metsimaholo se direkteur van Sosiale Dienste en die munisipale bestuurder gehad, en volg die saak verder op.


