News

Fratsongeluk eis geliefde eienaar van Econoflex

Harold word Woensdag met 'n troosdiens by die NG Gemeente Driehoek en 'n lewensviering by Old Vaaltonians Sportklub gegroet.

 

VANDERBIJLPARK. – Skok en verdwasing kring nog uit oor die skielike fratsdood van een van die Vaaldriehoek se geliefde sakemanne, Harold Ferguson, op Sondagaand, 9 Februarie.

Harold, wat die eienaar van Econoflex was, het die aand tydens ‘n hewige reënbui op sy stoep in Driefontein buite Vanderbijlpark gegly en agteroor geval. Hy het vermoedelik ‘n noodlottige hoofbesering opgedoen.

Sy vrou Suné en ‘n plaaswerker het die hulp van ‘n sekuriteitsman in die gebied ingeroep om hulle te help om hom in ‘n voertuig te laai, waarna hy na die Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark gehaas is. Hy is egter met aankoms dood verklaar.

Harold, wat op 25 Januarie 53 geword het, was ‘n oud-leerling van Vaal High School in Vanderbijlpark en het na skool ‘n kwalifikasie in ingenieurswese behaal. Hy was ‘n kenner op die gebied van hidroliese en soortgelyke toerusting wat veral deur swaarnywerhede gebruik word. Personeel van Econoflex se verskillende takke in Suid-Afrika steier nog onder die skoknuus van sy dood.

“Dit is hartverskeurend vir ons almal omdat Harold nie net ‘n leier was nie, maar ‘n vriend, mentor en rigtinggewende krag binne ons organisasie. Onder sy leierskap het ons merkwaardige mylpale bereik, maar dit was sy onwrikbare toewyding, visie en omgee vir elkeen van ons wat werklik ‘n impak gemaak het. Harold het met integriteit gelei en altyd die welstand van die span voorop gestel en ‘n kultuur van respek, innovasie en samewerking geskep. Hierdie verlies is onmeetbaar, en ons gedagtes is by sy familie, geliefdes en vriende in dié ongelooflike moeilike tyd. Ons sal voortgaan om sy nalatenskap en waardes te eer,” lui een van die personeelboodskappe op Facebook.

Volgens ‘n woordvoerder van Econoflex sal Harold altyd vir sy oopdeurbeleid en sy oop hand vir sy medemens onthou word.  “Hy was ‘n bron van inspirasie vir ons almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk. Met sy opregte passie vir wat hy gedoen het, het hy ‘n omgewing geskep waar kreatiwiteit gedy en samewerking geblom het. Sy vriendelikheid en wysheid het elkeen van ons diep geraak en verbintenisse gesmee wat tot buite die mure van die werkplek gestrek het.”

Harold word buiten Suné ook oorleef deur sy seuns, Keegan en Bevan, sy moeder en suster.

‘n Troosdiens word Woensdag, 19 Februarie, om 11:00 by die NG Gemeente Driehoek in Macowenstraat 42, Vanderbijlpark, gehou.
‘n Viering van Harold se lewe sal daarna by Old Vaaltonians Sportklub in Abraham Krielstraat, Vanderbijlpark SW2, plaasvind.

Wyle Harold Ferguson, eienaar van Econoflex.
Wyle Harold Ferguson

Harold en Suné Ferguson op hul troudag in 2016.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button