Mnr. Jan Hartzer, ‘n bekende in Vaaldriehoekse duiwekringe en ‘n vriend van talle duiweboere, se regterbeen is laasnag tydens ‘n noodoperasie geamputeer.
Volgens sy dogter, Ursula, het hy twee weke gelede die gebruik van sy regterbeen verloor. Sy sê dit was weens hoë bloeddruk. Hy het sedertdien gangrene ontwikkel en die been moes laasnag afgesit word in ‘n poging om sy lewe te red.
“Sy hart het drie maal tydens die operasie gaan staan, maar hulle kon hom gelukkig bybring. Ek het gedink ek gaan my pappa gister verloor. Hy lê nog kritiek in die Sebokeng-hospitaal se intensiewe sorgeenheid,” sê Ursula.
Sy het tans nie haar eie vervoer nie en moet van taxi’s gebruik maak om haar pa in die hospitaal te gaan besoek. “Ek het in die afgelope dae al R3 400 op huurmotors spandeer. As daar iemand is wat my dalk ‘n geleentheid hospitaal toe kan gee, sal ek dit opreg waardeer,” sê sy.
Mense wat wil help, kan Ursula kontak by 081 830 6436. Sy woon op die Vaalview-hoewes buite Vanderbijlpark.

