News

Jong ouerpaar gebroke na baba tydens geboorte sterf

"Ons was almal heeltemal onvoorbereid op die hartseer," sê die seuntjie se ouma.

 

VEREENIGING. – “Nog voordat ons ‘n ooievaarspartytjie kon beplan, moet ons nou ‘n begrafnis reël.” Só sê ‘n bedroefde mev. Lanie Vermeulen, die ouma van ‘n seuntjie wat verlede week in hartseer omstandighede tydens geboorte gesterf het.

“My 18-jarige dogter, Kay-Lee, is op 12 Januarie vir die eerste keer dokter toe met die vermoede dat sy so vier maande swanger was. Die dokter het vasgstel dat die baba se hartjie sterk klop, maar dat hy nie sy beentjies normaal kon beweeg nie. Daar was moontlik ook ander abnormaliteite maar die dokter wou niks sê voordat ‘n deeglike sonar gedoen is nie,” sê Lanie.

“Die sonar is toe op 7 Februarie gedoen, waarna ons gehoor het dat Kay-Lee moontlik reeds meer as sewe maande swanger was. Die hartkloppie was steeds normaal, maar ons het die slegte nuus gekry dat die baba nie ‘n magie, blaas of niere gehad het nie. Daar was vog op die breintjie en hy het ‘n abnormale klein borskas gehad wat op sy hartjie gedruk het. Daar is ook vasgestel dat Kay-Lee nie vrugwater gehad het nie. Die personeel het gesê die baba sou nie kon lewe nie en het voorgestel dat die swangerskap liewer getermineer moes word. Kay-Lee is toe in die Sebokeng Hospitaal opgeneem, waar sy ‘n induksie gekry het om kraam te bespoedig.

“Kay-Lee moes normaal geboorte gee. Hoewel die verpleegpersoneel mooi na haar gekyk het, was alles baie traumaties omdat niemand van ons by haar toegelaat is nie. Die seuntjie is die aand van 11 Februarie gebore. Hy het 1.2kg geweeg en sy hartkloppie was nog daar tot op die laaste. Hy sou Karrero genoem word – ‘n mengsel van sy ouers, Kay-Lee en Ricardo, se name. Alles was so moeilik en onverwags. Ons was heeltemal onvoorbereid op die hartseer,” sê Lanie.

Karrero is na sy geboorte en sterfte deur die personeel weggeneem en dit was Ouma Lanie en haar man se taak om die seuntjie agterna te gaan uitken en uitteken. Hoewel die grootouers foto’s van klein Karrero het, is Kay-Lee en Ricardo nog te getraumatiseerd om daarna te kyk. “Ons bewaar dit vir hulle totdat hulle eendag gereed voel om dit te sien,” sê Lanie.

Die familie beplan om Karrero te laat veras, maar het tans nie die nodige fondse nie. Hulle word met groot empatie bygestaan deur Purple Rain Funerals, wat die liggaampie sal bewaar totdat genoeg geld vir die verassing ingesamel is. Enigiemand wat die gesin met ‘n bydrae wil help, kan ‘n inbetaling maak aan: Purple Rain Funerals, First National Bank, Drie Riviere-tak, Rekeningnommer: 63127482783, Gold Business Account, Verwysing: Kay-Lee.

Kay-Lee (18) en haar ma, mev. Lanie Vermeulen, voor die bevalling.
Die jong ouers, Kay-Lee en Ricardo, verwerk nog die trauma nadat hul gestremde seuntjie verlede week tydens geboorte dood is.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button