News

Die Vaal verloor ‘n ware heer en omgeemens

"Hy was iemand wat homself sou opoffer vir sy gesin en sy medemens."

 

VANDERBIJLPARK. – Familie, vriende en talle kollegas uit regskringe het Maandag hul laaste eer betuig aan die bekende Vaaldriehoekse prokureur, mnr. Danie du Plessis, wat Saterdag, 22 Februarie in Mediclinic Midstream beswyk het.

Danie het op 11 Februarie ‘n aortaklep-vervanging ondergaan. Weens interne bloeding het ‘n pulmonale embolis gevorm wat tot ‘n hartstilstand gelei het. Hoewel Danie aanvanklik deurgehaal is, het hy ‘n swaminfeksie opgedoen wat al sy organe laat verswak het en uiteindelik tot sy dood gelei het.

Danie het die afgelope 50 jaar nie net hoë aansien in regskringe opgebou nie – hy was in sy jong dae ook ‘n uitmuntende langafstandatleet en ‘n stigterslild van die Vaal Atletiekklub. Hy het jare lank in die bestuur van die klub en ander plaaslike sportklubs gedien.

Hy is in 1950 in Pietersburg (nou Polokwane) gebore en het in Montaque grootgeword waarna hy saam met sy ouers na die Vaaldriehoek verhuis het, waar sy pa ook ‘n prokureur was. Hulle het vir die eerte ruk in Drie Riviere gewoon omdat daar nie behuising in Vanderbijlpark beskikbaar was nie. Daarna het hulle verhuis na Vanderbijlpark, waar hy aan die Hoërskool Vanderbijlpark en Transvalia skoolgegaan het.

Nadat hy die regsgraad B.Iuris aan die Universiteit van Pretoria verwerf en sy klerkskap deurloop het, het hy by sy pa se praktyk Van der Walt du Plessis en Ballot aangesluit. Dit het later Du Plessis Pienaar en Swart geword. Danie het later jare sy eie praktyk, Danie du Plessis Ingelyf, bedryf. Hy was egter besig om af te skaal en het beplan om die praktyk einde Februarie te sluit.

Plaaslike regsmense onthou hom met die grootste respek. Mnr. Chris Allers, voormalige hooflanddros van Vanderbijlpark, sê Danie het as vriend vir altyd ‘n spoor in sy lewe gelaat. Hy beskryf hom as iemand met diepgewortelde integriteit en as ‘n dankbare, nederige omgeemens. ‘n Ou sportvriend, Imker Hoogenhout, onthou Danie vir sy deursettingsvermoë op die sportveld. “Ek onthou die dag toe hy die 880 treë gehardloop het met ‘n gebreekte arm, en hy het gewen!” In later jare het Danie steeds gereeld aan marathons deelgeneem, onder andere drie keer aan die Two Oceans en twee keer aan die Comrades.

Volgens sy vrou, Magda, met wie hy in 1972 getroud is, was hy ‘n vriendelike, sagmoedige mens wat altyd sy alles gegee het. Danie en Magda was as kinders saam in die Hoërskool Drie Riviere op skool, maar het eers op universiteit begin uitgaan.

“Hy was ‘n baie goeie pa en ‘n wonderlike oupa. Hy was hulle almal se held. Hy was iemand wat homself sou opoffer vir ons gesin en sy medemens. Hy was my beste vriend, ‘n geesgenoot met wie ek enigiets kon deel; ‘n ware heer en ‘n ongelooflike voorbeeld na wie ons almal kon opkyk. Hy was spitsvondig, kon met woorde toor en was altyd gereed met ‘n grappie,” sê Magda. Opleeswerk en wynwaardering was nog twee van sy groot passies.

Buiten sy betrokkenheid by plaaslike sportklubs het Danie deur die jare ook in die bestuur van verskeie ander instansies soos die beheerliggame van die Laerskool DF Malherbe en Transvalia gedien, onder andere as voorsitter.

Hy word buiten Magda oorleef deur hul vier seuns en ‘n dogter, skoonkinders en vyf kleinkinders. Sy groetdiens is Maandag, 3 Maart, by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid gehou.

Wyle Danie du Plessis saam met sy vrou, Magda.
‘n Onlangse foto van Danie en Magda du Plessis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button