News

‘Beveilig dié gevaarpad en voorkom nóg sterftes’

Met genoeg ondersteuning uit die gemeenskap kan hier beslis 'n verskil gemaak word om verdere lewensverlies te voorkom.

 

VANDERBIJLPARK. – Die dood van ‘n jong Sasolburger, Jannes Grundling, op 15 Desember verlede jaar, het nie net skokgolwe deur die Vaaldriehoek gestuur nie maar ook uitgekring na die res van Suid-Afrika en selfs die buiteland. Jannes het op die Stokkiesdraai/Ravelpad buite Vanderbijlpark gesterf na ‘n botsing met ‘n polisievoertuig. Hy was die soveelste slagoffer van dié berugte gevaarpad.
Jannes, wat die voorafgaande agt maande op ‘n beesplaas in Nebraska gewerk het, was vir die Feestyd by sy ouers, Uys en Amanda Grundling van Sasolburg, voordat hy vroeg vanjaar weer na die buiteland sou terugkeer.

FOTO: Wyle Jannes Grundling was volgens sy gesin ‘n mense-mens, ‘n baie lojale vriend en baie lief vir die natuur.

Hy het die aand van die ongeluk saam met familievriende op die Vaalview-hoewes skaak gespeel totdat hy omstreeks 22:00 alleen in sy ma se motor huis toe vertrek het. Hy was nog op die reguit gedeelte van die pad, net voor hy die berugte skerp draai sou ingaan, toe ‘n polisievangwa van Vanderbijlpark se kant af uit die draai gekom en die twee voertuie mekaar tromp-op getref het. Die pad se middellyn is baie dof in dié gebied en nie sigbaar in die donker nie. Jannes het op die toneel beswyk.

Sy gedenkdiens is die volgende Vrydag by die NG Gemeente Fontein in Sasolburg gehou. In plaas daarvan om hul seun vir Kersfees by hulle te hê, moes sy verpletterde ouers reëlings tref om hom op hul familieplaas buite Oudtshoorn ter ruste te gaan lê. Jannes is buiten sy ouers ook oorleef deur sy tweelingsusters en swaers, Janke en Daniël Claassen en Anne en Burger van Rooyen.
Vaalweekblad se berigte oor Jannes se dood het talle plaaslike motoriste met kommer en selfs woede laat reageer. Baie wou weet waarom die Stokkiesdraaipad nie beter beveilig word nadat tientalle mense die afgelope jare al erg beseer is of hul lewe hier verloor het nie.

Plaaslike sakeman, Kobus Pienaar, wat die pad gereeld ry, sê dit is verstommend dat sperstrepe by feitlik elke blinde draai op die pad ontbreek. “Daar is baie meer blinde draaie sonder sperstrepe as mét sperstrepe. Die polisie van Loch Vaal gebruik daagliks die pad en moet feitlik weekliks ongelukke hier ondersoek. Kan hulle dit nie by die betrokke owerhede rapporteer sodat dit met aksie opgevolg word nie? Die pad benodig dringend ‘n nuwe teerblad en sperstrepe. Die Staat het die afgelope 25 jaar sy plig teenoor motoriste versuim,” is sy mening.

* Vaalweekblad versoek lesers wat in ernstige ongelukke op die pad betrokke was of geliefdes hier verloor het, om hul name en besonderhede na 083 246 0523 te WhatsApp. Deur sulke tragedies opnuut in die kollg te plaas, kan die betrokke owerhede hopelik oorreed word om dringende aandag aan die beveiliging van die pad te gee.

Wyle Jannes Grundling (28).

Jare later ly talle nog weens beserings of verlies

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van die Stokkiesdraai/Ravelpad sê hulle is al raadop oor die ernstige ongelukke wat byna weekliks hier plaasvind. Sommige, soos mev. Monique Bruwer, het self al vriende en familie in ongelukke op die pad verloor.

“Ons bly al 28 jaar hier en het al by baie ongelukke reg voor ons huis gaan help,” sê sy. Sy skryf die ongelukke toe aan talle slaggate in die gebied se paaie, lang gras wat aan die brand raak, met gevolglike rook wat motoriste se sig belemmer en die feit dat daar snags geen beligting is nie. Sy wys ook vinger na sommige roekelose padgebruikres wat teen ‘n hoë spoed uit grondpad-systrate voor motoriste op die Stokkiesdraaipad indraai en klippies en stowolke laat opskiet.

Mev. Anke van der Schyff sê sy het ‘n paar jaar gelede op ‘n toneel gehelp waar ‘n jong ma haar lewe tragies verloor het toe sy en haar fiets deur ‘n trok getref is. “Daar is baie fietsryers op die pad. Ons het regtig gesukkel om saam met die polisie die verkeer te beheer. Mense ry te vinnig om die draai en besef nie hoe gevaarlik dit is nie. Daar kort beslis beter waarskuwingsborde en strepe op die pad,” sê sy.

Enkele van die mense wat al op die pad dood of ernstig beseer is, sluit in:
* Tinka Hughes se dogtertjie van 6 jaar, wat in 1991 in die pad gesterf het toe sy van ‘n skoolbus afgeklim en teen ‘n hoë spoed deur ‘n voertuig getref is.
* Morné Bronkhorst (sterf 2016).
* Dezere Lawrenson (sterf 2021).
* Mev. Tryness Moyo (sterf 2021).
* Leser Anton Marx se 19-jarige niggie het gesterf en haar 21-jarige man is erg beseer in ‘n ongeluk op die pad.

* Daantjie van Rooyen – (ernstig beseer op 23 Junie 2007)
* Pieter de Wet (rugwerwels gebreek in 2021)
* Kobus Maartens (ernstig beseer in 2024).

Lees in Vaalweekblad se uitgawe van 7 Maart hoe Kobus Maartens se ongeluk in Augustus 2024 steeds sy hele lewe ontwrig. Hy het die afgelope week reeds sy vyfde operasie ondergaan en kon sedert die ongeluk nog nie teruggaan werk toe nie. 

Die Stokkiesdraaipad/Ravelstraat is veral snags ‘n baie donker en gevaarlike roete. Die pad se teeroppervlak benodig aandag en die sperstrepe kort nuwe verf. Met genoeg ondersteuning uit die gemeenskap kan hier beslis ‘n verskil gemaak word om verdere tragiese ongelukke te voorkom. Familie en vriende van slagoffers wat hier beseer of gedood is, kan Vaalweekblad gerus laat weet as julle jul name by so ‘n aksie wil voeg. 

Laat weet Vaalweekblad asseblief by 083 246 0523 as jy betrokke wil raak, of as jy of ‘n geliefde ook hier in ‘n ongeluk betrokke was. 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button