Na 17 jaar ly Sybrand steeds weens ongeluk se nagevolge
Hy wou die oggend net nog geld gaan bytrek vir die kerkbasaar toe sy lewe in 'n oogwink verander het.
VANDERBIJLPARK. – Werk in die Vaaldriehoek is so skaars soos hoendertande. As jy boonop gestremd is, is jou kanse om ‘n pos te kry byna nul. Dis om dié rede dat mnr. Sybrand Grobler (33) nou by plaaslike sakemense pleit om hom ‘n kans te gee.
Vaalweekbladlesers het in 2008 van Sybrand kennis geneem nadat hy in ‘n ernstige motorfietsongeluk in Vanderbijlpark betrokke was. Hy was maar ‘n seun van 16 toe hy op 2 Augustus 2008 by die Volle Evengeliekerk se basaar was, en met sy motorfiets bank toe wou ry om geld te gaan trek.
Sy plan was om terug te gaan basaar toe, maar ‘n tragedie het sy lewe in ‘n oogwink verwoes: Hy was digby Evereststraat in ‘n botsing betrokke en is in ‘n kritieke toestand hospitaal toe vervoer.
Vaalweekblad het destyds berig dat Sybrand in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein om sy lewe geveg het. Hy is deurgehaal maar sy been moes geamputeer word. Hy het ook die gebruik van sy regterhand en arm verloor. Ongeveer ses weke later kon hy huis toe gaan, maar sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.
Deur die jare het hy homself geleer om byna alles met sy linkerhand te doen. Hy kan huise verf, adminwerk doen en is rekenaarvaardig, en was ook ‘n tyd by motorverkope betrokke. Hy het ook ervaring as stoorman by die destydse Verref opgedoen en het voor sy ongeluk as “toolboy” by ‘n ingenieursfirma gewerk.
Sybrand is nou werkloos en al sy pogings om ‘n nuwe pos te kry, loop op niks uit nie. Hy verdien net ‘n klein staatstoelaag. Hy en sy steunpilaar, Hermien, het drie kinders op laerskool. Die gesin woon tans by sy skoonma in SW1.
Hoewel Hermien ‘n werk het, sluit haar werkgewer nou vir 10 weke, wat verdere druk op hul reeds karige inkomste gaan plaas. Boonop staan hul voertuig al ‘n jaar lank en daar is eenvoudig nie geld vir herstelwerk nie.
“Ons probeer die beste vir ons kinders gee, maar ons kry regtig bitter swaar om kop bo water te hou. Al is ek gestremd wil ek graag werk en altyd my beste lewer,” sê Sybrand.
Enigiemand wat dalk ‘n toepaslike werk vir hom het, kan hom kontak by 071 150 1912.

