Familie en lidmate se laaste groet aan geliefde Ds. Dirk
Sy vrou, familie en lidmate onthou hom veral vir sy fyn humorsin en sy groot liefde vir mense.
VAALPARK. – Lidmate van die Gereformeerde kerk Vaalpark is die afgelope maand verenig in rou oor hul leraar, ds. Dirk Kruger (46), wat op 17 Februarie aan kanker beswyk het. Hoewel die hartseer steeds na aan die oppervlak lê, huldig sy familie en lidmate dié geliefde man met groot dankbaarheid oor die positiewe stempel wat hy op so baie lewens afgedruk het.
Ds. Dirk is op 27 Desember 1979 in Pretoria gebore, waar hy aan die Hoërskool Pretoria Tuine gematrikuleer het. Na skool het hy in filmwese en fotografie studeer en ‘n paar jaar in dié rigting gewerk. Hy het egter geroepe gevoel vir die Teologie en in 2008 met sy studies in Potchefstroom begin. Na voltooiing daarvan in 2012, was hy van 2013 tot 2019 predikant van die Gereformeerde kerk Zeerust. In Mei 2019 het hy by die Gereformeerde kerk Vaalpark begin, en is dieselfde jaar met kolonkanker gediagnoseer. Hy is suksesvol daarvoor behandel, maar op 17 Maart 2023 het hy wéér slegte nuus gekry: Hy is met lewerkanker gediagnoseer. Hoewel ds. Dirk die afgelope twee jaar moedig teen die siekte geveg het, het hy sy stryd op 17 Februarie in Mediclinic Vereeniging se onkologie-afdeling verloor. Die hartroerende troosdiens op 22 Februarie was vir baie ‘n diep emosionele geleentheid om hul laaste eer aan hul geliefde leraar te bewys.
“Dirk se lewe en bediening was ‘n lewende getuienis van geloof, liefde en volharding,” sê sy vrou, Elmarie. “Hy was diep gelowig en het sy roeping as predikant met passie uitgeleef – veral om die Evangelie aan kinders, op hul vlak, te verkondig. Hy het rustigheid en kalmte in die gemeentes gebring waar hy gedien het. Terwyl hy chemo ondergaan het, selfs in die tyd toe hy pyn en ongemak ervaar het, het hy selde gekla.”
Elmarie onthou hom ook vir sy groot liefde vir mense en sy fyn humorsin. “Dirk was ‘n wonderlike eggenoot en pappa, en baie betrokke by ons kinders. Hy was innemend en het altyd ‘n geduldige oor gehad om te luister.” Wanneer hy nie toegewyd besig was met gemeentesake en sy gesin nie, het hy dit geniet om te lees. “Hy het selde verby ‘n tweedehandse boekwinkel geloop sonder om ‘n paar Teologie-boeke te koop. Sy gunsteling skrywer-prediker was John Piper. As student het Dirk artikels en filmresensies geskryf vir die Gereformeerde tydskrif “Kruispad”, wat spesifiek gerig is op jongmense.
“Hy het in sy vrye tyd ook graag houtwerk gedoen,” sê Elmarie. “Ek kon altyd vir hom ‘n prentjie wys wat ek op Pinterest gesien het, en dan het hy dit gemaak. Tydens sy bedieningstyd in Zeerust was daar ‘n jaarlikse instelling by die gemeente om ‘n lentemark te hou as fondsinsameling. Hy was deel van die houtwerkgroep wat hout-items gemaak het om op die mark te verkoop. Dirk was ook ‘n groot aanhanger van die Skotse terriër-honderas. Ons het oor ‘n tydperk van 13 jaar 3 Skotties gehad: Oscar, Reeva en Bakkies, waarvan Bakkies nog lewe.”
Ds. Dirk word buiten Elmarie oorleef deur hul kinders, Christiaan en Eldoné, sy ma en twee susters. Sy troosdiens is op 22 Februarie vanuit die Gereformeerde kerk Trinitas in Vanderbijlpark gehou.
Elmarie beplan om in Vaalpark aan te bly. “Ons het ‘n wonderlike ondersteuningstelsel vanuit die gemeente, onderwysers by Vaalpark Primêr, kollegas, familie en vriende. Ons sou nie hierdie bitter moeilike pad kon stap as dit nie vir hul ondersteuning was nie. Ook nie sonder God se krag en genade wat ons die afgelope twee jaar gedra het nie. Ons is hartseer dat ons ‘n wonderlike man en pappa verloor het, maar ervaar vrede in die wete dat hy nou sonder pyn en lyding is. Aan God al die eer,” sê sy.
Kosbare foto’s uit die gesin se familie-album:









