News

‘Biker’ kry vyfde operasie na bakkie oor hom ry

Ooggetuies of enigiemand wat meer weet oor wat die aand van die ongeluk gebeur het, word versoek om asseblief 'n boodskap te stuur na 074 481 5807.

 

VANDERBIJLPARK. – Sewe maande nadat mnr. Kobus Maartens (58) ernstig beseer is in ‘n motorfietsongeluk is hy steeds in pyn, en verskeie operasies lê nog voor om hom hopelik weer ‘n normale lewe te gee.

Kobus was op 30 Augustus 2024 een van die talle mense wat die afgelope jare op die gevaarlike Stokkiesdraaipad, ook bekend as Ravelstraat, beseer is.

Kobus, wat al byna 40 jaar ‘n werknemer van Cape Gate is, kon sedert die ongeluk nog nie teruggaan werk toe nie. Hy het verlede week sy vyfde operasie aan sy erg beseerde linkerbeen ondergaan. ‘n Eksterne raam is na die ongeluk rondom sy onderbeen aangebring om sy gebreekte beendere te stabiliseer, maar hy kan steeds nie op die been trap nie. Hoewel hy gereeld in en uit die hospitaal is en goed met die mediese span saamwerk, is hy baie gefustreerd met sy situasie, sê sy vrou, Christine.
Intussen het die motoris wat vir Kobus se beserings verantwoordelik was, nog nie na vore gekom nie en die Maartense het steeds talle onbeantwoorde vrae.

“Ons weet nie presies wat die aand van die ongeluk gebeur het nie en hoop steeds dat ooggetuies met ons kontak sal maak,” sê Christine.
“Ons was die aand tussen 21:00 en 22:00 op pad na ons huis in Lasiandra-hoewes. Ek het ons voertuig bestuur en Kobus het voor my op sy Hayabusa-motorfiets gery. Naby Rafters moes ek by die stopstraat vir aankomende verkeer wag en ek het Kobus uit die oog verloor. Reg voor Kompas-gemeente, skaars 600 meter van ons huis af, het ek ‘n swart voorwerp in die pad sien lê en met skok besef dit was Kobus. Sy motorfiets het sowat 10 meter van hom af aan die linkerkant van die pad gelê,” sê sy. Vier voertuie, ‘n Mazda 323, ‘n wit bakkie, ‘n BMW en ‘n roomkleurige Ford Eco was in die omgewing toe die voorval plaasgevind het.

“’n Wit bakkie, vermoedelik ‘n Hyundai, het van Rossi’s Sports Bar se kant af gekom en bo-oor my man gejaag terwyl hy in die pad gelê het,” sê Christine. Die voertuig het weggejaag.
Kobus is met verskeie oop frakture in Mediclinic Emfuleni opgeneem. Albei sy enkels is gebreek, albei knieë vergruis, en vier van sy ribbes aan die voorkant en vyf aan sy rugkant is gebreek. ‘n Noodoperasie is die volgende oggend uitgevoer op sy linkerbeen, wat op verskeie plekke gebreek was.
* Christine vra ooggetuies of enigiemand wat meer weet oor wat die aand van die ongeluk gebeur het, om haar asseblief te kontak by 074 481 5807. Vaalweekblad is ook besig met ‘n projek om die lys van mense wat op die Stokkiesdraaipad/Ravelstraat beseer of gedood is, te opdateer om druk op die betrokke owerhede te plaas om dié gevaarlike roete te beveilig. Mense wat hul name by die lys wil voeg, kan ‘n WhatsApp stuur na 083 246 0523.

Kobus moes die afgelope sewe maande leer om met ‘n eksterne stabiliseringsraam om sy linkerbeen saam te leef en kan steeds nie op die been trap nie.
Kobus Maartens voor die ongeluk by sy motorfiets.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button