News

‘n Laaste groet aan ‘n ‘gentle giant’ sakeman

Neels Roeloffze was die eienaar van verskeie ondernemings, waarvan CJ Rentals Mobile Cranes die grootste was.

 

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende het Saterdag hul laaste eer betoon aan een van die Vaaldriehoek se kleurryke inwoners, mnr. Neels Roeloffze (79), wat onlangs na ‘n lang siekbed beswyk het.
Neels het die afgelope 50 jaar in die Vaaldiehoek gewoon waar hy verskeie sakeondernemings, onder andere ‘n groot hyskraan-verhuringsaak, bedryf het.

Volgens sy eksvrou, mev. Christine Grobbelaar wat steeds ‘n gewaardeerde vriendin was, het Neels die afgelope sewe jaar vele operasies ondergaan. Dit het met ‘n knie-operasie begin, en in Maart verlede jaar is hy met lipo-sarkoomkanker gediagnoseer. Die kanker, wat as ‘n groot gewas in sy buik begin het, het mettertyd dwarsdeur sy liggaam versprei. Hy het op 2 Maart sy stryd in Mediclinic Worcester verloor.

Neels is op 30 Julie 1945 as oudste seun van ‘n dokter gebore en het in Malmesbury skoolgegaan, waar hy in diskus en swem uitgeblink het. Hy het provinsiale kleure in albei dié sportsoorte verwerf. Na skool het hy hom as meulmaker (millwright) bekwaam en na die Vaaldriehoek verhuis, waar hy gou naam gemaak het as ‘n knap entrepreneur. Hy was die eienaar van verskeie ondernemings, waarvan CJ Rentals Mobile Cranes die grootste was.

“Neels was die spreekwoordelike ‘gentle giant’. Hy het baie omgegee vir sy medemens en wou almal graag help. Hy was ‘n toegewyde voëlboer en baie lief daarvoor om met sy hande te werk – ‘n regte MacGyver wat mens graag byderhand wou hê as jy iewers gestrand was,” sê Christine. “Ons dank God vir Neels se voorbeeld en lewe, en gun hom sy Hemelse rus want hy het ‘n jaar van intense lyding beleef.”

In ‘n huldeblyk aan haar pa sê Neels se dogter, Zonnelieze, hy was die “mees perfekte pa” waarvoor enige meisie kon vra. “Hy het sy hele lewe lank alles vir my en vir ander gedoen. Ek sal hom altyd eer vir die liefdadigheid en hulp wat hy aan so baie mense betoon het, en ek sal sy raad en wysheid koester. Terwyl die kanker hom laat wegteer het, was ek heeltyd in verwondering oor die krag wat hy te midde van die verskriklike pyn getoon het,” sê sy.

Neels word buiten Christine en Zonnelize deur sy seun Neil, ‘n broer en suster oorleef. Sy groetdiens is Saterdag, 15 Maart by die NG Gemeente Touwsrivier in die Wes-Kaap gehou.

 

 

Wyle mnr. Neels Roeloffze saam met sy dogter, Zonnelieze.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button