Bossie Strydom: Die Vaal verloor ‘n staatmaker-insleper
Groot skok en hartseer oor Bossie se skielike afsterwe
MooiVaal Media het vroeër die week met leedwese kennis geneem van die skielike afsterwe van Johan (Bossie) Strydom, wat meer as 15 jaar ‘n bekende voertuig-insleper in die Vaaldriehoek was.
Verslaggewers van Vaalweekblad en Ster het deur die jare ‘n baie goeie werksverhouding met Bossie opgebou, en sal hom altyd onthou vir sy bekwaamheid en besonderse vermoë om rustigheid by ongelukstonele te bring. Hy was ‘n ware staatmaker en steunpilaar wat opreg gemis gaan word.
Sy groetdiens word Woensdag, 26 Maart, om 11:00 by die NG Vaalrivier Gemeente gehou, en verskeie insleepdienste beplan ook om volgende naweek aan ‘n spesiale massarit ter ere aan Bossie deel te neem. Meer inligting hieroor volg later.
Vaalweekblad se innige meegevoel aan sy naasbestaandes in hierdie hartseertyd.
* Volledige berig in Vaalweekblad van 28 Maart.

