News

‘n Eerste vir Afrika: Ocumed plant nuwe tipe ooglens in

Die eerste dag na die operasie kon die pasiënt reeds sonder 'n bril lees en het gekwalifiseer om sonder bril te bestuur.

 

Gedurende 2024 het die mediese wêreld die 75 jaar herdenking gevier sedert Sir Harold Ridley die eerste intraokulêre lens ontwerp het vir die Engelse firma Rayner, wat na ‘n katarakverwydering in die oog geplaas kon word.

Rayner het die geleentheid aangegryp en tydens die jaarlikse Europese kongres vir katarak en refraktiewe chirurge (ESCRS) in Barcelona, Spanje, nuwe tegnologie vrygestel.

“Hul nuwe ‘Rayner Galaxy spiral’ lens het ons blootgestel aan nuwe tegnologie wat nog nie voorheen beskikbaar was nie. Met die hulp van kunsmatige intelligensie het hulle die lens se ontwerp aangepas om probleme wat met vorige lense ondvind is, uit te skakel,” sê dr. Johan de Lange, oftalmoloog verbonde aan Ocumed Oog- en Laserinstituut in Vanderbijlpark.

“Om brilvry te wees is vir baie mense ‘n wens, maar ongelukkig nie vir almal beskore nie. Met die nuwe Galaxy-tipe lens kom ons ‘n stap nader daaraan. Dit stel pasiënte in staat om byvoorbeeld te kan bestuur of te lees sonder ‘n bril, indien die pasiënt se oog geskik is. Die groot verskil is egter dat dit sonder baie van die newe-effekte kom wat mense soms met ander modelle van hierdie tipe tegnologie ervaar. Dit is te danke aan kunsmatige intelligensie (AI), wat gebruik is om die newe-effekte wat gewoonlik ervaar word, tydens die lens se ontwerp uit te skakel,” sê hy.
Aangesien dit vir dr. De Lange belangrik is om altyd ingelig en aan die voorpunt van moderne tegnologie te staan, het hy die kongres in Spanje bygewoon, waar die nuwe lens en ander belangrike punte bespreek is.

“Oftalmologie is so dinamies en ontwikkel altyd dramaties. Tydens die kongres was daar oor die 17 000 verteenwoordigers van oor die hele wêreld, waarvan so 14 000 oftalmoloë was. Rayner het my daar genader om te hoor of ek bereid sou wees om die eerste van hierdie nuwe lense in Afrika te gebruik. Met die ongelooflike positiewe terugvoer tydens die navorsingsfase en die bewyse van veiligheid het ek natuurlik ingestem. Net omdat ons in Vanderbijlpark, Suid Afrika bly, beteken dit nie ons wil nie leiers in ons eie reg wees nie. Die eerste van die lense in Afrika is toe in Desember in ons teater by Ocumed Oog- en Laserinstituut deur my ingeplaas, na suksesvolle verwydering van die katarak. Die eerste dag na die operasie kon die pasiënt reeds sonder ‘n bril lees en het gekwalifiseer om sonder bril te bestuur.

“Ons kan nooit die volmaakte lens vervaardig soos ons Skepper nie, maar hierdie bring ons nader aan ‘n gemaklike leefstyl in die geskikte pasiënt,” sê dr. De Lange.

Foto bo: Van links: Suster Linda le Roux, Morné Muller van Surgical & Ophthalmic Supplies, en dr. Johan T. de Lange.

Dr. Johan de Lange tydens die geskiedkundige operasie in Desember, toe hy die eerste Rayner Galaxy-lens in Afrika in ‘n pasiënt se oog ingeplaas het.

Lees ‘n vorige berig oor dr. Johan T. de Lange van Ocumed Oog- en Laser Instituut hier: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/news/2024/03/18/mense-se-oe-boei-die-voormalige-sport-ster/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button