VF+: ‘Burgemeester van Sedibeng mag nie langer beskerm word’
Opposisiepartye sê die speaker van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit beskerm die burgemeester.
SEDIBENG – Die speaker van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit het Woensdag skynbaar geweier dat ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester, Lerato Maloka aan die raad voorgelê word.
Volgens Hein van der Lith, VF+ raadslid in die Sedibeng Distriksmunisipaliteit, is die mosie van wantroue reeds twee weke gelede teen die burgemeester ingedien en moes volgens die Munisipale Strukturewet Woensdag in die raad gedien het.

“Die speaker het met die raadsvergadering gister geweier dat ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester, Lerato Maloka, aan die raad voorgelê word,” sê van der Lith.
Die VF Plus het hom sterk uitgespreek teen die speaker se beslissing en voel dat die mosie geregverdig is.
“Die VF Plus het insal nie toelaat dat die speaker van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, Moipone Modikeng, asook die munisipale bestuurder, Motsumi Mathe, langer die burgemeester beskerm nie,” sê Van der Lith.

Die VF Plus het hom sterk uitgespreek teen die speaker se beslissing en voel dat die mosie geregverdig is.
Van die klagte wat tot die wantrouemosie aanleiding gegee het, is dat die burgemeester na bewering haar ampsmotor doelbewus beskadig het. Sy moet ook ʼn beweerde ongemagtigde besoek aan Duitsland verduidelik asook wat van die amptelike burgemeestersketting geword het.
Die raad het die munisipale bestuurder versoek om ʼn ondersoek na die bewerings te loods waarna hy ʼn private ondersoekspan aangestel het.
Die verslag is intussen aan die munisipale bestuurder oorhandig, maar nog glad nie aan die raad voorgelê nie.

Raadslede het ook tydens die raadsvergadering die munisipale bestuurder se werkswyse bevraagteken omdat hy sedert sy aanstelling nog geen oorsigverslag ingedien het nie. Deel van sy pligte is om ʼn maandelikse verslag aan die raad voor te lê.
“Die VF Plus sal met die raadsvergadering op 29 Januarie versoek dat die speaker en munisipale bestuurder verantwoordbaar gehou word vir hul onwilligheid om die mosie van wantroue voor die raad te laat dien asook waarom die munisipale bestuurder nie maandeliks verslag doen aan die raad nie,” sê van der Lith.

