Vermeende swendelaar koponderstebo in beskuldigdebank
Sy het na bewering R7.3 miljoen in ‘n jaar se tyd verduister.
VEREENIGING – ‘n Vrou wat glo R7.3 miljoen by ‘n motorhandelaar van die stad verduister het, het Dinsdag koponderstebo in die beskuldigdebank gesit en snik toe sy vlugtig in die streekhof in Vereeniging verskyn het.
Joané van de Gevel (volle naam Jacoba Johanna Magretha van de Gevel) word deur haar voormalige werkgewer, Johannes Jurgens Hattingh (65), daarvan beskuldig dat sy in ‘n jaar se tyd bykans R7.3m by sy maatskappy verduister het.
Van de Gevel het in 2023 as sekretaresse/boekhouer by Hattingh se onderneming, Martin Morgan Motors, gewerk.
Sy het na bewering hier bedrog gepleeg deur op ‘n bedrieglike wyse gelde uit die onderneming se bankrekening na haar persoonlike bankrekening oor te plaas.
Sy het ook versuim om verskeie krediteure van Martin Morgan Motors te betaal.

Vaalweekblad het in 2023 berig dat Van de Gevel reeds in 2022 in die Suid-Gauteng hooggeregshof, aan diefstal skuldig bevind is nadat sy glo voorheen by ‘n ingenieursmaatskappy gesteel het.
Van de Gevel, wat vir langer as ‘n dekade vir STAHL Crane Systems as diensbestuurder gewerk het, het glo naby aan ‘n miljoen rand (volgens hofdokumente tussen R940 000 en R961 767) by die onderneming gesteel waar sy as een van die “mees betroubare personeellede” gereken was.
Van de Gevel het volgens hofdokumente skuldig gepleit en berou oor haar dade uitgespreek.
Sy is toe tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir ‘n periode van vyf jaar opgeskort is op die voorwaarde dat sy gedurende die tydperk nie weer aan klagtes van bedrog of diefstal skuldig bevind word nie.
Nou word sy daarvan beskuldig dat sy by Martin Morgan Motors ook geld verduister het terwyl sy besig was om die opgeskorte vonnis uit te dien.

Kollegas by Martin Morgan Motors met wie Vaalweekblad gepraat het onthou Van de Gevel as ‘n diepgelowige Christen wat gereeld vir ander werknemers gebid het.
Van de Gevel word deur die prokureur Muhammed Omar verteenwoordig.
Streeklanddros Chris Kruger het die saak tot 8 April uitgestel sodat Omar instruksies by sy kliënt kan neem.

