*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (25 Julie – 31 Julie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING – “Dis nie die ape wat indringers in die mens se gebied is nie – dis ons wat húlle grondgebied betree het,” sê Mike Maxwell, wykskomiteelid vir parke in Drie Riviere en lid van die Field Guide’s Association of South Africa (FGASA).
Die blouape wat gereeld in woonbuurte opduik, vullisdromme omkeer en selfs by oop vensters inklim, is volgens Maxwell nie die oorsaak van die probleem nie, maar eerder die gevolg.

“As gevolg van gebrekkige dienslewering, veral die gebrek aan vullisverwydering en onwettige rommelstorting, word hierdie diere gelok deur maklik toeganklike kos.”
Inwoners begin toenemend hul frustrasies lug – en sommige het selfs na gewelddadige optrede oorgegaan.
“Ek weet van gevalle waar mense met ‘pellet guns’ op die blouape geskiet het,” sê Maxwell.
“Dis onwettig. Hierdie diere word beskerm deur die wet. Oortreders kan tot R30 000 beboet word of tronkstraf kry.”

Een inwoner sê: “Ons wil nie die diere skade aandoen nie. Ons wil net hê ons huise moet veilig wees. Die situasie het handuit geruk.”
Maxwell werk tans saam met die Sedibeng-distrik se verordeningseenheid en bepleit ’n media-veldtog om die publiek bewus te maak van die regsimplikasies en van elke inwoner se verantwoordelikheid.
“My hande is gebind. Ek kry daagliks oproepe, maar sonder die regte optrede van die owerhede en gemeenskapsamewerking gaan niks verander nie.”
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is om kommentaar genader, maar het nog nie gereageer nie.
Maxwell versoek dat enige persoon wat weet van voorvalle waar blouape met pellet guns geskiet word, dit onmiddellik aan hom rapporteer by 078 511 1799.
Hy is in kontak met die Sedibengdistrik se verordeningseenheid en sal die saak aan hulle oordra.
*Lees ook hierdie brief deur Dennis Ryder, ‘n DA-parlementslid, oor die aap-kwessie.

