Local news

Frank klim in 15 karakters se koppe tydens Reünie

Na die Covid-19 pandemie het Petrus Boshoff uiteindelik teruggekeer na sy ou Hoërskool in die toneelstuk, Reünie.

Ná 44 jaar keer Petrus Boshoff terug na sy alma mater, Hoërskool Totius, vir sy uiteindelike 40-jaar-reünie nadat die Covid-19-pandemie die oorspronklike byeenkoms uitgestel het. Wat hy verwag om ’n aand van herinneringe en herontmoetings te wees, neem egter ’n onverwagse wending wanneer ou vriende én onbekende gesigte hul lewensverhale begin deel.

LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos 2026 se syfers wys fees se enorme impak

In Reünie vertolk Frank Opperman nie net Petrus nie, maar ook 14 ander karakters. Met weinig meer as ’n skoolbaadjie wat soms plek maak vir ’n rok of ’n jas, verander hy moeiteloos van een persoon na die volgende.

Frank Opperman as ’n ou skoolmeneer.

Sy meesterlike stemwerk, subtiele liggaamstaal en fyn karakterisering laat die gehoor skater van die lag én verstom oor hoe oortuigend hy binne sekondes in ’n oud-onderwyser, voormalige skoolmaat of selfs ’n vroulike karakter verander.

Frank Opperman as ’n vrou.

Wanneer dit uiteindelik Petrus se beurt is om sy eie storie te vertel, verander die toon. Hy deel met deernis herinneringe aan vriende wat hy deur die jare verloor het en besin oor die verloop van die lewe.

LEES OOK: KYK: In die Stoel met Laevelder: Naranda Leeuwner

Tog eindig die aand op ’n ligter noot wanneer hy onverwags ’n voormalige skoolvriendin raakloop wat hom destyds gesoen het – ’n oomblik wat ná 44 jaar steeds helder in sy geheue leef. Hul ontmoeting laat ou herinneringe herleef en skep terselfdertyd nuwes.

Frank Opperman as Petrus Boshoff.

Dana Snyman en Frank het reeds verskeie kere kragte saamgesnoer om bekroonde eenmanproduksies te skep – Dana met die pen en Frank op die verhoog. Werke soos Die uwePottie PotgieterRooikaartHondKlaagliedere van ds. Tienie Benade en Donkie het gehore landwyd beïndruk. Met Reünie sluit die ervare regisseur De Klerk Oelofse by dié bekroonde span aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button