Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Ornitoloog deel sy kennis van voëls met die gemeenskap

Dawie de Swardt monitor die suikervoëls al die afgelope 27 jaar in die dorp en omliggende gebiede en het dié week weer hier besoek afgelê.

LYDENBURG – Dawie de Swardt monitor die suikervoëls al die afgelope 27 jaar in die dorp en omliggende gebiede en het dié week weer hier besoek afgelê.

Die oud-Lydenburger het met ‘n besoek aan die Longtompas by Paardeplaats begin, waarna hy na die Nooitgedacht-natuurreservaat is. In dié tydperk kon hy daarin slaag om 35 voëls te bering, waarvan 12 suikervoëls was.

Die grootste opwinding was egter toe De Swardt een van dié wat hy sewe jaar gelede bering is, weer gevang het. “Dit was die doel van ons besoek en dit was wonderlik om dié voël na soveel jaar weer te siene te kry”.

Die gogga het hom reeds op ‘n vroeë ouderdom gebyt toe hy hierdie voëls vir die eerste keer in sy ouma se tuin in George gewaar het. “Ek was excited oor die nuwe spesie, veral toe ek die einste voëltjie ook eendag hier in Lydenburg gewaar het, en ek wou weet wat aangaan,” vertel De Swardt.

Wat as blote belangstelling begin het, het vinning in ‘n passie verander en hy het besluit om met voëlopnames te begin. Baie jare het sedertdien verloop en vandag spog hierdie ornitoloog van die nasionale museum in Bloemfontein met 14 000 beringings agter sy naam, 61 wetenskaplike artikels wat gepubliseer is asook ‘n hoofstuk in ‘n Europese voëlboek, Handbook of the Birds of the World, wat in 2007 in Spanje gepubliseer is.

Elke drie jaar probeer De Swardt die visserye, die tuin van die hospitaal of verskeie plase, Sterkspruit, Gustav Klingbiel Natuurreservaat, Natalshoop, Nooitgedacht Natuurreservaat en Paardeplaats, besoek. By laasgenoemde het

De Swardt reeds 283 voëls bering, waarvan 129 in die winter gedoen is. “Suikervoëls word met proteas verbind en dis veral in daardie tydperk wanneer kransaalwyne in klowe en enkele proteas in blom, hulle hierheen lok,” vertel hy.

De Swardt verduidelik verder dat die suikervoëls se hoofvoedsel protea-nektar is, maar dat hulle tussen November en Februarie dié bome vir broeidoeleindes gebruik. Hy is al 27 jaar lank op Paardeplaats betrokke en gedurende hierdie tydperk is

38 hervangstes gekry en 129 van die 283 in die wintermaande bering.

De Swardt het ook al by die Steenkampsberg Waterval, Oshoek sowel as Goedehoop dié takie verrig en in dié tydperk is hervangste van meer as 121 individue aangeteken, waarvan 26 seisoenaal tussen die berg en dorp beweeg het.

‘n Totaal van 67 voëls is in protea-lokaliteite hervang waar hulle gering is.

Hierdie is egter nie net ‘n sommer-so-stokperdjie nie, meen hy, maar beslis die moeite werd. “Om so ‘n permit te verkry, moet ‘n totaal van 500 voëls onder leiding van ‘n amptelike beringer bering word,”verduidelik De Swardt.

Tydens dié proses word nette van ses, nege of 12 meters gespan waarin die voëls gevang word. Dit word elke 20 minute nagegaan en indien daar ‘n voël in die net is, word dit versigtig verwyder en gering.

“Dit is uiters noodsaaklik om nette toe te maak of af te haal, veral in reënweer of sterk wind,” verduidelik Janine Goosen, wat besig is om onder De Swardt se toesig dieselfde werk te doen.

“Ons moet te alle tye vermy dat die voëls te lank in die net bly om so te verseker dat hipotermie nie voorkom nie”. Volgens Goosen was daar ook al roofvoëls in die nette aangetref, wat waarskynlik die kleineres agternagesit het. “Die gereelde besoeke verhoed ook dat ape nie die voëls wat gevang is daar uithaal nie,” voeg sy by.

Goosen is tans besig om haar finale beringing af te handel om haar permit te verwerf. Beringing is egter nie al waarop hierdie twee fokus nie. “Ons doen verskeie ander versamelings wat onder andere ektoparasiete insluit wat op die voëls voorkom,” verduidelik De Swardt terwyl hy ‘n buis uithaal waarin ‘n bosluis gebêre is.

“Ons probeer soveel moontlik inligting versamel wanneer ons met veldwerk besig is en beskou alle inligting as nuttig wanneer ons die voël uit die net uithaal. Ons neem onder andere ook bloedsmere wat later gebruik word vir DNA- doeleindes.”

Alhoewel hy reeds diep spore in die navorsingsbedryf getrap het, blyk dit of dit nog lank nie verby is nie. “Ek beplan om my opvolgartikel vir Afring News na hierdie besoek te doen,” vertel De Swardt.

Hy is tans ook besig met ‘n artikel wat spesifiek op Lydenburg se voëls gerig is, waar hy vergelyking tussen sy Southern Birds 1990 (opname van vroeë 1980’s tot 1991), SABAP 1-projek en die huidige SABAP 2. “My groot droom is egter om te sien dat iemand ‘n beringingsprojek in Lydenburg van stapel kan stuur”, sê hy.

De Swardt moedig alle belangstellendes aan om Safring te kontak, homself of die South African Bird Atlas Project 2 (SABAP2) se webwerf te besoek. “Dit sal wonderlik wees om meer inligting te versamel en selfs al is jy net ‘n voëlkyker, kan jy ‘n waardevolle bydrae maak. Dit is nodig om soveel data moonlik in te samel.”

Navrae: Safring: safring.adu.org.za, SABAP2: https://sabap2.adu.org.za/ of Dawie de Swardt: dawie@nasmus.co.za of 051-447-9609.

Die oudste suikervoël, deur Kotie Heroldt bering, is van Lydenburg afkomstig en is 13 jaar later weer gevang. Tien jaar na sy eerste beringing is kleurringe opgesit en Lani Visser het hom drie jaar later weer by die vissery gekry.

Die suikervoël wat die verste beweeg het, is deur Susan Schoeman in Steynstraat gering, en is dood aangetref deur Warren McLealanf van Crystal Springs Resort in Pilgrim’s Rest-gebied – ‘n afstand van 70 kilometer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button