Willie Smit verower Clovertoer-titel
Sedert 2010 kon Willie Smit van Team Europcar nog nooit die eerste plek in die Clover Way Better Laeveldtoer verower nie.

Maar vanjaar, na ‘n uitmergelende vyf dae op sy fiets, het hy die toer in 16:12:51 gewen. Die toer is oor ‘n afstand van 568,5km rondom Graskop afgelê.
Hy het stof in die 2014-kampioen, JC Nel, se oë gery en twee minute vinniger oor die week klaargemaak.
Die 23-jarige het sommer op die eerste dag oor die 155,2km-roete van Graskop/Ohrigstad/Pilgrim’s Rest/Graskop reeds sy teëstanders gewaarsku dat hy hier is om te wen. Hiermee het Smit op die tweede dag gedurende die tydtoets eerste weggespring en dit ook in 33:42,010 gewen.
Alhoewel hy nie ‘n goeie dag op sy fiets met die derde skof oor 156km gehad het nie, het hy herstel en die volgende dag ‘n tweede plek in die heuwelren behaal.
Ryan Gibbons, ook van Europcar, het die groentrui verower met ‘n algehele puntetelling van 32. Die koning van die berge-trui is deur Bonitas se Shaun-Nick Bester gedra nadat hy 25 punte ingesamel het.
‘n Hele paar ander plaaslike ryers was ook in aksie. Igna de Villiers van LGE Bells het ‘n algehele derde plek vir veteraan mans 40+ behaal in ‘n tyd van 10:58:40. Die Valencia-fietsryer Amy Beth McDougall was vierde in 11:41:46 en Dalene van der Leek (Sasol Women’s Racing team) het ook hier gery.
Die belowende groentjie van Galito’s, Demarco Pillay het ‘n vyfde plek behaal.






































