Swemmers word vir harde werk beloon
Aanhouer wen! Dit kan van 'n hele paar swemmers gesê word wat hul tye op Swem Suid-Afrika se databasis met meer as 10 sekondes by Saterdag se Mpumalanga Winterkortbadgala verbeter het.

“Die swemmers het nie noodwendig die items gewen nie, maar harde werk en uitstaande verbeterings kan nie ongesiens verbygaan nie,” het Mechelle Steyn van Mpumalanga Swem gesê.
Ashton de Pontes van Fins Swemklub het vir seuns o/14 in die 100-meterborsslag sy tyd met 11,44 sekondes verbeter en in die tweede plek met 01:29,03 geëindig.
Onder die bekwame afrigting van Detlef Scmidt, het Erica Sibande haar tyd met ‘n indrukwekkende 12,37 sekondes verbeter.
Sy het vir dogters 11 tot 12 jaar in die 200-meter individuele wisselslag met ‘n tyd van 03:06,36 klaargemaak. Sy het derde plekke in die 50-meterrug-, -bors- en -vryslag behaal en eerste plekke in die 100-metervry- en -vlinderslag verower.
Nelspruit Swem Akademie (NSA) wat nou eers drie maande aan die gang is, se Giano dos Santos het sy tyd in die 200-meter individuele wisselslag met 12,17 sekondes verbeter. Hy het hier ‘n goud met 02:37,72 behaal. Tayla Kotzee, ook van NSA het puik vir dogters 13 tot 14 jaar gevaar toe sy met 10,58 sekondes in die 100-meterrugslag verbeter het. Sy het ‘n algehele eerste plek losgewem.
Curro Swem Akademie se Sumari Naude het vir dogters 11 tot 12 jaar in die 100-meterrugslag die tyd op die horlosie met 10,58 sekondes verbeter.




























