KANSA Vrywilligersdag bedank helpende hande
"NoHairSelfie"-plakkate het vir groot pret gesorg.

KANSA staan pasiënte met dié gevreesde siekte op ‘n legio maniere by. Soos talle ander sentrums, doen Mbombela s’n sy deel wat bewusmaking daarvan en die bevegting daarvan betref. Hiervoor het die organisasie die helpende hande van vrywilligers nodig.
Plaaslikes wat gereeld vir KANSA help, is Vrydag tydens hul jaarlikse Vrywilligersdag bedank.
Gaste is op heerlike worsbroodjies en yskoue koeldrank by hul kantore in Anneckestraat getrakteer. ‘n Masseuse het seker gemaak dat geen spanning deel van die feestelikhede was nie. Elke vrywilliger het ‘n dankiesê-sertifikaat ontvang. “Sonder hierdie mense sal ons nie kan doen wat ons doen nie,” het die organisasie se Jacqueline Weideman gesê.
Sy het elke helper se toewyding geloof. KANSA se NoHairSelfie-projek is ook Vrydag aan hulle bekendgestel.
Weideman het verduidelik dat ‘n selfoontoepassing gebruikers binnekort die geleentheid gaan bied om te sien hoe hulle sonder hare sal lyk. “NoHairSelfie”-plakkate het as voorsmakie hiervan gedien.
“Hou die pers dop vir meer inligting, ons volgende Shavathon is op pad,” het sy gesê.

