Bejaardes se reg op ‘n waardige lewe só erken
Die organisasie het die Tuisgenoot-projek op sewe plattelandse dorpe geloods om na eensame bejaardes om te sien.
KOMATIPOORT – Solidariteit Helpende Hand se Ouma en Oupa-projek het vanjaar ‘n bykomende komponent gekry om te verseker dat behoeftige bejaardes steeds met waardigheid kan lewe.
Die organisasie het die Tuisgenoot-projek op sewe plattelandse dorpe geloods om na eensame bejaardes om te sien. Marlothpark en Komatipoort is een van die gekose dorpe. ‘n Komitee is in elke dorp aangestel en dié met die grootste behoeftes is geïdentifiseer. ‘n Tuisgenoot is in elke dorp aangewys wat maandeliks fondse vanaf Helpende Hand ontvang om na die bejaardes om te sien.
Volgens Michelle Burger, Helpende Hand se organiseerder van die Ouma en Oupa-projek, word daar van die tuisgenoot verwag om hulle gereeld te besoek en met hulle te gesels, na doktersafsprake en kerkdienste te vervoer en net algemene ondersteuning te bied. Daarby skenk Helpende Hand ook elke maand vir die bejaardes nie-bederfbare en vars voedselprodukte.
Die tuisgenoot van die Onderberg is Annemarie Esterhuizen, wat al ‘n geruime tyd betrokke is by bejaarde-ondersteuningsprojekte in die gemeenskap. “Dit is vir my ‘n voorreg om aan so ‘n projek te kan deelneem, omdat senior burgers my baie na aan die hart lê. Al die bejaardes wat gehelp word, is baie positief oor die projek,” sê sy.
Hierdie is die eerste bejaardeprojek van Helpende Hand wat spesifiek daarop gefokus is om maatskaplike behoeftes van bejaardes aan te spreek. Die organisasie konsentreer nie net op hulle finansiële armoede nie, maar ook op hulle emosionele welstand.
“Ons sien gereeld dat bejaardes ‘n groter behoefte aan geselskap, liefde en kameraadskap het as enigiets anders,” sê Burger. “Baie bejaardes het nie ‘n eggenoot of kinders waarop hulle kan staatmaak om hul eensaamheid te verdryf nie en ons glo dat dit elkeen se reg is om met waardigheid oud te word.”
