Community galleriesGalleries

Everine Cason vier 30 jaar op doek

Was jy by Stoep toe haar droom kunsuitstalling afgeskop het?

MBOMBELA – Everine Cason (88) is in haar kunswerke verewig. Dis nie net vertoonstukke nie, maar afbeeldings van haar siel wat die kyker aangryp en laat herbesin en besef: daar ís lewe. ‘n Multidimensionele lewe wat wemel van energie.

Hiervan het Everine baie. “Sy het ‘n ongelooflike energie,” het haar voormalige kunsdosent, Andries Botha by die opening van haar solo-kunsuitstalling gesê. Die uitstalling “Everine Cason, 30 jaar op doek,” is Dinsdagaand by Stoep geopen. Botha, gesiene beeldhouer en senior dosent aan die Durban Universiteit van Tegnologie, was die hoofspreker.

“Party toesprake moet jy nie voorberei nie,” het hy begin. “Hierdie is een van hulle.” Everine was 50 toe sy haar studenteloopbaan onder sy leiding begin het. Om hierdie droom op 50 na te jaag, sit nie in enigeen se broek nie. Maar Everine het ‘n droom gehad.

“Daar is mense wat aanhou om hulle drome te verwesenlik. Ander mense dink soms dat hulle tyd mors. Maar hierdie mense wat die een droom na die ander verwesenlik, is in gesprek met hulle eie wese en hul Maker se wese,” het hy gesê. Sedert die aanvang van haar loopbaan as kunstenaar, doen Everine die één ding wat vir Andries die belangrikste is: sy maak kuns.

Volgens Botha is dit nie wat jy doen wat belangrik is nie, maar wat jy maak. Jou roem en rykdom sal vervaag, terwyl jou kunsteskeppings vir toekomstige generasies ‘n nalatenskap sal wees. Hy het verwys na Suid-Afrika se rotssketse en Europa se katedrale. Hiermee het eeue gelede se kunstenaars hul menswees, doen en late, en selfs drome vasgevang. Vandag vang Everine haar wese en ons tyd op ‘n skilderdoek vas. “Wat is die kunste as dit nie ‘n uiteensetting van die menslike siel is nie?” het hy gevra. “Dit getuig van kunstenaars, hul drome en die verwesenliking daarvan,” het Andries gesê.

Oorsese reise het hom na die grafte van kunstenaars van vroeëre eeue geneem. Hy het vertel dat mense blomme en selfs lipstiffie daarop plaas wanneer dit daagliks deur talle besoek word. “So sal jou kinders ook eendag klippies op Everine se graf sit,” het hy gesê en die kunstenaar van harte met die opening van haar uitstalling gelukgewens.

Om toegang tot die galery met Everine se werke aan die publiek te verleen, het hulle eers die rooi strik voor die deur seremonieel oopgetrek.

IMG_2978 (Medium)

Haar werke in verskillende mediums getuig van haar veelsydigheid as kunstenaar en het plaaslike kritici beïndruk. Botha, ‘n nasionaal gerekende kritikus, het haar gelukgewens met die diepte wat agter haar werke skuil.

“Ons moet inkoop in die intellektuele en konseptuele kunste,” het hy beklemtoon. “Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf kry baie ondersteuning, maar ons kunstenaars soos Everine, behoort gelyke erkenning te geniet. Laat plaaslike kunstenaars se werke in dokters, tandartse en prokureurs se kantore hang, eerder as werke van elders af. Dis hoe dit hoort,” het hy gesê.

Die uitstalling sal tot 30 April by Stoep te sien wees. Everine sal op 14, 21 en 28 April vanaf 11:00 tot 12:00 daar wees om met belangstellendes oor haar kunswerke te gesels. Everine droom al lank van hierdie uitstalling. Innibos het hierdie droom van haar help verwesenlik en sal, saam met die feesvennote, voor 29 Junie nóg 12- drome bewaarheid. Hierdie inisiatief skakel in met vanjaar se feestema – #droomgroot. Besoek www.innibos.co.za.

Was jy daar?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button