Community galleriesGalleries

Goue stem stel nuwe enkelsnit en video bekend

Roets het in Mbombela grootgeword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy 'n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en is sy ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane, Australië, waar sy tans woon.

Na die vrystelling van haar eerste Afrikaanse enkelsnit en musiekvideo, “Dans in die donker”, het die Mbombela-gebore sanger en liedjieskrywer, Simoné Roets, sommer diep in die harte van plaaslike gehore gekruip.

Roets het in Mbombela grootgeword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy ‘n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en is sy ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane, Australië, waar sy tans woon.

Sy is opgewonde oor die bekendstelling van haar nuwe snit, “Ongerep”. Nie net het Jattie de Beer van Artistry Productions hom skitterend van sy taak gekwyt met die vervaardiging van die snit nie, maar sy het ook die voorreg gehad om saam met Joshua na die Reën (Jacques de Villiers) hieraan te werk.

“Ek vereenselwig met Jacques as mens en kunstenaar en wou baie graag saam met hom werk. Hy het Afrikaanse musiek in ‘n nuwe rigting kom stuur en inspireer my om meer in my moedertaal musiek te skryf,” verduidelik sy.

“Hy het darem dadelik ingestem om saam met my die liedjie te sing nadat ek vir hom die demo gestuur het.”
Hierdie kontemporêre popsnit uit haar eie pen gaan oor hoe kwesbaar die mens eintlik is. “

‘Ongerep’ is iets wat onaangeraak is en in die konteks van hierdie liedjie verwys dit na iemand in sy/haar rou vorm – voor die wêreld se verwagtinge en jou omstandighede kom vorm het wie jy is. Die liedjie is ‘n uitdaging om terug te kom by daai rou vorm, want dit is waar die mooi lê in elkeen van ons,” deel sy.

LEES OOK: Landsdiensklub druk stempel af

Sy hoop dat luisteraars daarby sal aanklank vind en weer sal besef dat die mooi dikwels in ons gebrokenheid lê.
Vir die bekroonde musikant, Joshua na die Reën, wat bekend is vir sy sielvolle musiek, was dit net so lekker om saam met Roets (wat saam met sy vrou op skool was) te werk en hy erken dat hy dit graag in die toekoms weer sou wou doen.

“Ek het onmiddellik aanklank gevind by die liedjie en was dadelik beïndruk met die verfrissende effek wat sy op die mense saam met wie sy werk, het. Sy is waarlik iemand om na op te kyk en ek is dankbaar vir die mooi vriendskap wat uit hierdie saamwerkgeleentheid kon groei,” sê hy.

Die musiekvideo van hierdie pragtige lied is deur Adi van der Walt en haar span van Faculty of Art in ‘n vriend se huis in Capital Park verfilm.

Volgens Roets, wat tans in Suid-Afrika is om haar musiek vry te stel, het Van der Walt die boodskap van die liedjie perfek vasgevang en is sy baie opgewonde om die eindresultaat met bewonderaars te deel.

“’Ongerep’ gaan daaroor om eg te wees. Ons almal kort iemand wat ons herinner dat ons nie perfek hoef te wees nie. Iemand wat die mooi in ons sien en uitwys,” verduidelik sy.

“Die video wys twee mense wat mekaar help om weer by die rou en egtheid van menswees uit te kom.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

 
Back to top button