Local newsNewsNews

Vandalisme by begraafplaas steeds ‘n probleem

'n Totaal van 20 grafstene by die Sonheuwel-begraafplaas se gedenkmuur is oopgekap en vrae onstaan steeds oor die as wat oornag spoorloos verdwyn.

Mnr. Jaap Vermaak se skoonpa sou Sondag verjaar het. Hy is op 1 Julie 2009 oorlede en sy familie het ‘n hokkie by die krematorium gekoop.
Sy vrou en ma het Sondag die begraaf-plaas besoek om vars blomme daarheen te neem. Met hulle aankoms het van die grafstene op die grond in duisende stukkies gelê.
“Terwyl ek in my voertuig gewag het, het my vrou my kom roep om die stene vir my te wys. Dit is nie lekker om die twee vroue so hartseer te sien nie. Ons is net dankbaar dat dit nie ons gedenksteen was wat so verniel is nie,” vertel Vermaak.
Dit kom voor asof die vandalisme Saterdagaand plaasgevind het. Langs die gedenkmuur is vuur gemaak en twee leë bottels wyn het op die ashoop gelê. “Ons vermoed dat dit die boemelaars was wat sommer oor die heining geklim het om hulself teen die wind te beskerm, wat die plek soos ‘n varkhok gelos het,” vertel een van die operateurs wat nie sy naam bekend wou maak nie.
Die toesighouer, mnr. Joseph Samele is van die voorval in kennis gestel.
Vermaak het gesê dat hulle onmiddellik hul geliefde se steen gaan verwyder het, voordat dit die volgende een was wat op die grond lê. “Die mense het geen respek vir ander se goed nie. Ek wil nie weet hoe die families oor hulle oorledenes se stene wat gebreek is, voel nie.” Die Mbombela-munisipaliteit is verantwoordelik om die begraafplaas te onderhou. Die woordvoerders van die munisipaliteit, me. Bessie
Pienaar en mnr. Joseph Ngala het teen druktyd nog geen kommentaar gelewer
nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button