Hannon Bothma transformeer Laeveld-dames
Die sjarmante Hannon Bothma het tydens sy Makeover Roadshow vroue in die Laeveld gehelp om hulle grimering- en velsorgroetines te verbeter.
In ’n besige wêreld waar vroue gereeld moet bontstaan om hul gesins- en werkslewens te balanseer, moet hulle ook nog tyd maak om op hul beste te lyk. Hannon Bothma, bekende TV-persoonlikheid, het onlangs met sy Makeover Roadshow na die Laeveld gekom om vroue te help om hul tyd en begroting beter te bestuur wanneer dit by skoonheidsprodukte kom.

LEES OOK: Helpende Hand weer op ’n rol vir liefdadigheid
Bothma het saam met sy assistent die verhoog betree en vier dames uit die gehoor gekies vir ‘n volledige grimering- en haarstylverandering. Met sy skerp sin vir humor en talle nuttige wenke het hy die dames én die gehoor vermaak, terwyl die eindresultate groot reaksie ontlok het.

Bothma het ook van sy produkte bekendgestel en gewys hoe vroue hul velsorgroetines kan verbeter. Die dames het die geleentheid geniet, saam gekuier en ‘n ligte middagete en drankies geniet.
Die dag was ’n groot sukses, en die dames was gretig om Bothma se nuutste wenke tuis uit te probeer.