Local newsNewsNews

Gemeenskap maak hul harte oop

Barberton Times wil dankie sê vir die voorreg wat ons as personeel het om van tyd tot tyd toegelaat te word om deel te hê aan hierdie tipe projekte.

BARBERTON – Barberton is ‘n pragtige dorp en dit lyk sekerlik op die oog af vir meeste besoekers asof almal hier baie rustig en sonder sorge deur die lewe gaan, veral omdat mense nog tyd maak om te groet en met mekaar te skerts en oor die algemeen ‘n baie rustiger bestaan voer as hul eweknieë in die stede.

Tog, hier by Barberton Times hoor ons daagliks van die werklike toedrag van sake en hoe baie gesinne in hierdie gemeenskap nie eens ‘n brood kan bekostig nie. Soms word dit net te veel, voel dit asof die punt waar die behoeftes vir eens en altyd bevredig gaan word net nooit bereik sal word nie.

Dan, op ‘n dag soos enige ander, gebeur daar iets wat almal vir ‘n oomblik weer op koers bring. Die gemeenskap maak hul harte en hande oop om ander te help en vir ‘n paar dae kan almal weer asem skep in die wete dat daar vir die volgende week kinders is wat kos sal hê.

Hierdie besighede, klubs en individue wat so onbaatsugtig hul hulp aanbied, is te veel om te noem, en ons kan ook nie elke week daaroor skryf nie, nogtans wil ons van twee gevalle wat verlede week plaasgevind het, melding maak.

Hoofleiers van BHS Chelsea Boshoff en TJ van der Merwe met die skenkings.
Hoofleiers van BHS Chelsea Boshoff en TJ van der Merwe met die skenkings.

In die eerste September-uitgawe het ons van Zaida Ebrahim berig wat die Feed a Family-organisasie in Cathyville en Burgerville op die been gebring het. Skaars was die uitleg van die koerant agter die rug, of Francina du Plessis van Hoërskool Barberton kom laai ongeveer 40 etes van paptert en vleis hier af. Nadat Francina van Zaida gelees het wat vir 13 gesinne van onder andere etes voorsien, is daar besluit dat BHS dié kos aan hierdie behoeftige mense gaan skenk. Dit was ‘n oorstelpte en innig dankbare Zaida wat later die kospakkies kom afhaal het en sy het groot dank teenoor die skool uitgespreek vir hierdie mildelike bydrae.

Kort hierna het Johan en Lettie van Jaarsveld, eienaars van Barberton Tractor, Verona Beukes van Laeveld Smous genader. Hulle is dit op die hart gelê om agt varke te skenk aan veral enkel-ouers en bejaardes. Hierdie skenkings gaan miskien nie help om dinge oornag beter te maak nie, en dit is onmoontlik om by almal wat hulpbehoewend is uit te kom, maar nogtans bring dit groot verligting.

Vrydagaand is daar tot laatnag omtrént gespook en gespartel om alles regverdig te verdeel en te verpak nadat Rassie van Chop Chop-slaghuis vir die opsaag van die vleis gesorg het. Saterdag, tydens die uitdeel van die vleis, was daar trane in soveel oë dat almal betrokke maar swaar gesluk het, veral omdat ‘n ieder en ‘n elk van ons weet wat dit is om swaar te kry. “Eerstens wil ek ons Hemelse Vader dank vir al sy goedheid,” het Verona gesê, “en dankie ook aan Anchen vir haar groot bydrae, Rassie van Chop-Chop vir die slag en opsaag van die vleis, Frik du Rand vir sy hulp met die pak en aflewerings en natuurlik vir Johan en Lettie. Al die ander mense wat tot dusver gehelp het om die sopkombuis aan die gang te hou, weet dat niks ongesiens verbygaan nie en dat julle werklik ‘n verskil in soveel mense se lewens maak.”

Johan en Lettie van Jaarsveld, eienaars van Barberton Tractor, saam met Verona Beukes (middel).
Johan en Lettie van Jaarsveld, eienaars van Barberton Tractor, saam met Verona Beukes (middel).

Barberton Times wil dankie sê vir die voorreg wat ons as personeel het om van tyd tot tyd toegelaat te word om deel te hê aan hierdie tipe projekte. Elkeen wat net ‘n brood skenk, ‘n blikkie dierekos by Pick n Pay in die boks los, ‘n kledingstuk, of selfs net ‘n glimlag, maak die lewe die moeite werd vir soveel ander wat dag tot dag met ontnugtering moet saamleef.

Mag elkeen wat gee, in oorvloed ontvang sodat jul kruike altyd vol sal bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button