NELSPRUIT – Omstrede inligting oor Victor Wilkens het hierdie week tydens sy borgaansoek aan die lig gekom. Hy word aangekla van poging tot moord nadat me. Amanda Joubert op 16 Januarie van sy woonstel in Hillside Manor se balkon geval het.
Dié jongman het al verskeie kere met die gereg gebots en het sonder skroom erken dat hy dwelmafhanklik is.
Nie net is hy al aan twee misdade in Engeland skuldig bevind en terug gedeporteer Suid-Afrika toe nie, hy verskyn ook vandag (Vrydag) in die hof op ‘n klag van dronkbestuur. Hy is sowat ses maande gelede hiervoor aangekeer.
Dit is nou buiten die klag van poging tot moord waarvoor hy tans in aanhouding is én ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na ‘n beweerde voorval by Stables verlede jaar.
Joubert (23) lê nou al 44 dae in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid nadat sy ernstige breinbeserings en beenbreuke tydens die val opgedoen het.
Wilkens (30) het weer gekleë in ‘n bruin blokkieshemp en denim in die beskuldigdebank gestaan. Hy is deur mnr. Coert Jordaan verteenwoordig. Die staat voer aan dat hy van ‘n sogenaamde Skedule 5-misdaad aangekla word. Dit behels dat die verdediging (Jordaan) sal moet bewys dat dit in geregtigheid se belang is dat Wilkens op borg vrygelaat word.
Jordaan het dit egter betwis en ‘n vorige berig van Laevelder aangehaal waarin daar staan dat Joubert na bewering niks van die voorval kan onthou nie. Hy is dus van mening dat die staat se saak teen sy kliënt swak is.
Hy het egter later genoem dat hy sou voortgaan asof dit moontlik ‘n Skedule 5-misdaad kon wees. Die staat staan borg teë omdat hulle meenWilkens sal nie vir sy verhoor opdaag nie en met staatsgetuies sal inmeng.
Getuienis Dinsdag in die hof gelewer
Meer oor Victor Wilkens
Verskeie brokkies persoonlike inligting oor Wilkens het aan die lig gekom toe hy self deur Jordaan na die getuiebank geroep is.
Hy was ‘n leerder van Lowveld High en Flamboyant en het slegs st. 7 voltooi. Hy gebruik Azor, ‘n medikasie vir angssteurnisse, vir ‘n tipe aandagafleibaarheidsindroom waaraan hy ly. Hy werk vir sy pa, mnr. Jan Wilkens, en verdien ongeveer R13 000 ‘n maand. Die woonstel by Hillside Manor word deur sy pa betaal en is deel van sy vergoedingspakket.
Sy vorige veroordelings in Engeland is bevestig. Hy het in 2006 skuldig op ‘n klag van die besit van dwelms (kokaïene en Ecstacy) gepleit en moes 100 uur gemeenskapsdiens verrig. Hy het ook ses maande tronkstraf vir aanranding uitgedien.
Wilkens en Joubert se verhouding
Hy het bevestig dat hy en me. Amanda Joubert in ‘n verhouding was en dat hulle saam in die woonstel in Hillside Manor gebly het. Jordaan het hom gevra of dit waar was dat hy dwelmafhanklik is en hy het “ja” geantwoord. Later het hy bygevoeg dat hy en Joubert “per geleentheid” saam dwelms gebruik het.
Die aand van die voorval: 16 Januarie 2014
Volgens Wilkens het hy en Joubert daardie aand ‘n meningsverskil oor ‘n selfoon gehad. Hy het ook genoem dat hulle saam Cat gebruik het. Hy ontken dat hy haar van die balkon afgestamp het en het aangedui dat hy onskuldig op ‘n klag van poging tot moord gaan pleit.
Die staatsaanklaer, mnr. Oupa Ndlovu, het dit aan Wilkens gestel dat hy die aand van die voorval ‘n mnr. Smit geskakel het om hulp. Wilkens het in reaksie hierop gesê dat hy bloot vir Smit gevra het om ‘n ambulans te ontbied. Ndlovu het dit verder aan hom gestel dat hy aggressief was teenoor paramedici, waarop hy gesê het dat hy in erge skok was en bloot besorg oor Joubert se welstand was.
Hy het getuig dat hy wel na die voorval na Mediclinic Nelspruit is waar Joubert behandel word en dat daar “‘n probleem was met haar ma”. Konst. Fred Meyer het hom gekontak en gevra om eerder weg te bly. Dit is verder aan hom gestel dat hy aggressief was teenoor verpleegpersoneel en dit het aan die lig gekom dat die hospitaal se sekuriteit ontbied is om hom te van die perseel te verwyder. In reaksie hierop het hy gesê dit was bloot omdat hy verby verpleegpersoneel geloop het, nie omdat hy aggressief was nie.
Mnr. Jan Wilkens getuig
Wilkens se pa, Jan, is ook na die getuiebank geroep. Die beskuldigde het die polisie op 18 Januarie ingelig dat hy na Noupoort rehabilitasiesentrum gaan. Dit is hier waar hy later gearresteer is. Hy was slegs twee weke daar toe hy homself wou ontslaan. “Ek het myself vrywillig ingeboek vir behandeling en wou myself weer uitboek,” het hy getuig. Daar is aanbeveel dat hy agt maande lank rehabilitasieprogramme moes bywoon.
Sy pa het getuig dat hy graag wil hê dat sy seun gerehabiliteer moet word. Hy het kol. Gerrie Agenbag, Nelspruitse speurhoof, geskakel en vertel dat sy seun Noupoort toe is. Hy het Agenbag gevra of hy om ‘n bevel moes aansoek doen wat Victor sou dwing om rehabilitasie te ondergaan en volgens hom het Agenbag saamgestem dat dit ‘n goeie idee was.
Wilkens Sr. het gesê dat hy bereid is om 24 uur verantwoordelikheid vir sy seun te neem en sal toesien dat hy geen kontak met Joubert het nie.
• Wilkens moet ook tereg staan op ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat me. Yolandé Redelinghuys in Oktober by Stables beseer is. Die saak moet word op 6 April aangehoor en Wilkens het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit.
Amanda Joubert se herstel
Volgens me. Celia Joubert, Amanda se ma, het sy al 7,5 kilogram verloor en is sy baie maer. Sy kan glad nie loop nie, want haar linkerbeen is verlam en haar regter-bekkenbeen nog gebreek. Sy was aanvanklik aan haar hele linkerkant verlam, maar het darem reeds die gebruik van haar linkerarm en -hand herwin.
As alles goed gaan, word sy volgende week ontslaan en in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem waar sy intensiewe terapie sal ondergaan om weer te kan loop.
• Wilkens se borgaansoek word Maandag voortgesit.
