NELSPRUIT – Victor Wilkens (30) is vroeër vandag borg toegestaan in die plaaslike distrikshof nadat hy weke lank in aanhouding was. Hy is gearresteer vir poging tot moord op me. Amanda Joubert nadat sy op 16 Januarie van hulle woonstel se balkon in Hillside Manor afgeval het.
Hy en sy pa, mnr. Jan Wilkens, was sigbaar verlig toe die landdros, me. Christa du Plessis uitspraak gelewer het. Sy het borg vasgestel op R3 000 en gelas dat Wilkens geen kontak met Joubert of haar familie mag hê nie. Hy moet by sy pa bly en moet elke Maandag en Vrydag by die Nelspruitse polisiestasie aanmeld. Sou hy nie kan nie omdat hy uitstedig sal wees vir werk, moet sy pa, wat ook sy werkgewer is, ‘n brief vooraf indien wat sal aandui hoe lank hy weg sal wees. Hy moet ook die ondersoekbeampte vooraf in kennis stel as hy Mpumalanga wil verlaat.
Dele van Joubert se verklaring is aan die hof voorgelees, asook dié van me. Yolandé Redelinghuys, wat beweer dat Wilkens haar verlede jaar by Stables aangerand het.
Du Plessis het gesê dat dit in die belang van geregtigheid is dat Wilkens op borg vrygelaat word. Die saak teen hom is uitgestel tot 16 April vir verdeer ondersoek, wanneer hy ook weer moet verskyn op ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na die voorval by Stables verlede jaar.
• ‘n Volledige berig oor vandag se hofverrigtinge en getuienis sal later op www.lowvelder.co.za beskikbaar wees.
