BADFONTEIN – Meer as honderd visse is Maandagaand dood aangetref nadat agt verdagtes op heterdaad betrap is waar hul onwettig vis uit die Kwenadam gevang het. Steelburger/Lydenburg Nuus het verlede week oor ‘n soortgelyke voorval berig waarby drie Chinese betrokke was.
Dié keer blyk dit egter vissermanne van Tzaneen te wees. Die hoofnatuurbewaarder van Lydenburg Visserye, Mr Frik Rousseau, verduidelik dat kiefnette gebruik word om vis mee te vang wat dan vermoedelik verkoop word. Volgens Rosseau is daar op 105 visse, hoofsaaklik blou kurpers en karpe, beslag gelê asook toerusting ter waarde van ongeveer R40 000. Dit sluit nette, visstokke, sowel as ‘n boot in.
Volgens Rousseau neem die visbevolkingsgetalle dramaties af weens die onwettige net van vis uit die dam. “Ons (die visserye) doen jaarliks opnames hier om die blou kurper se populasie te monitor, en dit het in Januarie 2014 bekend geword dat blou kurper getalle baie in dié dam afneem. Dit is ‘n gewilde hengelvis en dit sal jammer wees as dié spesie uit Kwena verdwyn.”
Volgens Rousseau het bykans al die kurpers meer as ‘n kilogram elk geweeg. Afgesien van die onwettige vangste, blyk dit of daar egter ‘n groter probleem agter dié tipe insident skuil. Volgens Mr Andries Bezuidenhout van die Badfontein Landowners Internal Safety and Security (BLISS) is daar vir die derde keer probleme met die arrestasie van die skuldiges ondervind.
“Dit blyk of dit elke keer dieselfde polisie-offisiere is wat aan diens is wanneer daar probleme met die arrestasies ervaar word,” sê hy. Kol. Chris Heymans van die SAPD het die voorval bevestig, maar die probleme ontken. “Ek het self die arrestasies hanteer en daar was geen probleem nie,” sê Heymans. Hy het wel bevestig dat twee verdagtes op die vlug geslaan het, maar dat ses wel gearresteer is.
Steelburger/Lydenburg Nuus het vertroulik verneem dat daar moontlik sake teen verskeie polisielede wat op diens tydens die voorval was, geopen gaan word. ‘tans ‘n soektog voort op die dam na die nette, aangesien daar eerskomende naweek ‘n groot hengelkompetisie hier gaan plaasvind.
Heymans doen ‘n beroep op persone met inligting rakende die onwettige vang van vis om hom te kontak. “Mense moet weet dis geensins wettig om met nette te vang nie en geen ongelisensieerde boot of skipper word toegelaat om te hengel nie.” Heymans kan by 082-469-1631 bereik word.
