NELSPRUIT – Victor Wilkens (30) is gistermiddag laat borgtog van R3 000 toegestaan nadat hy aangekla is van poging tot moord op me. Amanda Joubert (23).
Sy het op 16 Januarie van hulle woonstel in Hillside Manor se balkon afgeval en ernstige breinbeserings en beenbreuke opgedoen. AO Cobus van Niekerk, ondersoekbeampte in die saak, het getuig dat daar verklarings is wat hom na bewering met die misdaad verbind. “Sy self en haar ma, me. Celia Joubert, het verklarings afgelê,” het Van Niekerk gesê.
Hy het later getuig dat, volgens Joubert se verklaring, Wilkens na bewering haar kop teen ‘n muur gestamp het en sy haar bewussyn verloor het. Mnr. Coert Jordaan, sy regsverteenwoordiger, het later self uit die verklaring voorgelees. Dit het aan die lig gekom dat Joubert na die voorval verwys het asof dit in Desember 2013 gebeur het.
“Ek wil hom nie naby my of my hospitaalkamer hê nie. Ek is bang vir hom. Die beserings wat ek het, is as gevolg van hom. Hy sou my stamp en ek sou val,” het Jordaan uit die verklaring voorgelees.
Van Niekerk het genoem dat sy ernstig beseer is en onder swaar verdowing was en daarom dalk die datum verkeerd gehad het. Jordaan het op sy beurt ‘n vorige beslissing in ‘n hooggeregshof aangehaal, waarvolgens só ‘n teenstrydigheid eers behoorlik ondersoek moet word voordat ‘n arrestasie uitgevoer kan word. Joubert was verder in staat om haar ID-nommer, beroep en adres reg in die verklaring weer te gee.
Van Niekerk het verder getuig dat Wilkens na die voorval deur die polisie versoek moes word om van die hospitaal weg te bly. “Hy het aggressief teenoor verpleegpersoneel in die intensiewe- sorgeenheid geraak en hulle gestoot en gestamp,” het hy getuig.
Mnr. Jan Wilkens, Victor se pa, het die hofverrigtinge bygewoon en onderlangs opmerkings gemaak en gelag wanneer daar goed gesê is waarmee hy duidelik nie saamgestem het nie.
Van Niekerk het verder getuig dat die vorige saak van aanranding wat Joubert in Desember 2012 teen hom aanhanging gemaak het, buite die hof geskik is deurdat daar R30 000 aan haar betaal is. Hy het gesê dat hy nie gekant sou wees daarteen as daar borg aan Wilkens toegestaan word nie, maar dat hy aan streng borgvoorwaardes sou moes voldoen; soos om sy paspoort in te handig en elke week by die plaaslike polisiestasie aan te meld.
• Meer besonderhede oor Wilkens se borgaansoek sal later hier beskikbaar wees.
