NELSPRUIT – Victor Wilkens (30) is Maandag borg van R3 000 toegestaan in die plaaslike distrikshof nadat hy weke lank in aanhouding was vir die beweerde poging tot moord op me. Amanda Joubert (23).
Dit het tydens hofverrigtinge aan die lig gekom dat die polisie se ondersoek nog lank nie klaar is nie en die landdros, me. Christa du Plessis, het selfs tydens uitspraak gevra hoe sterk die staat se saak is.
Joubert het op 16 Januarie vanjaar ernstige breinbeserings en frakture opgedoen toe sy van Wilkens se woonstelbalkon in Hillside Manor geval het. Sy is hierdie week uiteindelik uit Mediclinic Nelspruit ontslaan en sterk nou aan in ‘n rehabilitasiesentrum.
Laevelder het Dinsdag berig dat Joubert ‘n verklaring afgelê het waarin sy beweer dat Wilkens haar kop teen ‘n muur gestamp en sy haar bewussyn verloor het. Die datum in die verklaring lui egter Desember 2013. Die ondersoekbeampte, AO. Cobus van Niekerk, het aangevoer dat die datum dalk verkeerd is omdat Joubert op daardie stadium deurmekaar kon wees weens swaar verdowing en omdat sy pas uit ‘n koma wakker geword het. Tog was Joubert se ID-nommer, adres en beroep in die verklaring, reg. Ander verklarings in die dossier is dié van getuies wat na bewering gehoor het hoe Wilkens en Joubert argumenteer.
Wilkens se regsverteenwoordiger, mnr. Coert Jordaan het toe aangevoer dat daar inderwaarheid niks in die staat se dossier is wat Wilkens direk met die voorval verbind nie en Du Plessis het hom gelyk gegee. “Die polisie het te vroeg ‘n arrestasie gemaak. Hierdie saak is op die rol geplaas sonder genoeg bewyse,” het Jordaan gesê.
Du Plessis het tydens haar uitspraak in reaksie hierop gesê: “hoe sterk is die staat se saak? Hoewel daar getuies is wat gehoor het daar was ‘n argument tussen hulle, kan die hof nie net dit in ag neem tydens hierdie borgaansoek nie.”
Dit was asof die staatsaanklaer, mnr. Oupa Ndlovu en van Niekerk, nie uit dieselfde monde gepraat het nie. Ndlovu het voorheen opgemerk dat die staat teen borg gekant is omdat hy van mening was dat Wilkens sou vlug en met staatsgetuies kon inmeng. Van Niekerk het egter gesê dat hy geen besware sou hê as Wilkens op borg vrygelaat word nie, mits hy aan streng borgvoorwaardes moes voldoen.
Van Niekerk het verder getuig dat sy bevelvoerder, kol. Gerrie Agenbag, ‘n oproep gekry het waarvolgens hy ingelig is dat Wilkens uit Noupoort, ‘n dwelm- en alkoholrehabilitasiesentrum, wou vlug. Dit is voorgehou aan die hof as bewys dat Wilkens moontlik nie sy verhoor sou bywoon nie. Du Plessis het bevind dat dit nie ‘n genoegsame bewys is dat hy wel sy verhoor sou ontduik nie.
Van Niekerk het egter saamgestem dat Wilkens dalk met staatsgetuies sou inmeng. “Die polisie is na die voorval op 16 Januarie na die hospitaal ontbied nadat Wilkens aggressief met verpleegpersoneel geraak het,” het Van Niekerk getuig.
Hy het verder getuig dat die forensiese verslag oor die misdaadtoneel uitstaande is en dat hy verdere verklarings van Joubert moes bekom. Van Niekerk het ook erken dat hy Wilkens se volle samewerking gekry het na die voorval, asook dié van sy pa, mnr. Jan Wilkens. Jordaan het dit aan hom gestel dat daar geen getuienis voor die hof gebring is wat aandui dat Wilkens sal vlug nie en dat daar geen waarskynlikheid is dat hy met die ondersoek sal inmeng nie. Van Niekerk het saamgestem.
Du Plessis het ook gesê dat, hoewel Wilkens vorige veroordelings in Brittanje het, hy nie ‘n misdaadrekord in Suid-Afrika het nie. Sy het dus gelas dat dit in die belang van geregtigheid is dat Wilkens op borg vrygelaat word.
Hy moet aan die volgende borgvoorwaardes voldoen:
• Hy mag geen kontak met Joubert of haar familie hê nie
• Hy moet twee keer ‘n week by die Nelspruitse polisiestasie aanmeld: Maandae en Vrydae tussen 08:00 en 20:00
• Hy moet vooraf toestemmng kry om Mpumalanga te verlaat. Sou hy nié by die polisiestasie kan aanmeld nie omdat hy uitstedig is vir werk, moet sy pa, wat ook sy werkgewer is, ‘n brief indien wat dit aandui.
Wilkens en sy pa was sigbaar verlig toe die aankondiging gemaak is. Die saak teen hom is uitgestel tot 16 April vir verdere ondersoek, wanneer hy ook moet voorkom vir die beweerde aanranding op me. Yolandé Redelinghuys by Stables verlede jaar.
Redelinghuys se verklaring is ook aan die hof voorgelys. Hierin verwys sy na Carmen Brown (Wilkens se medebeskuldigde in hierdie saak), mnr. Pieter Burger en Wikus Potgieter as diegene wat haar aangerand het. Sy noem nie Wilkens direk nie. In haar verklaring sê sy wel dat daar videomateriaal wat die aand by Stables geneem is aan haar gewys is en dat sy Wilkens hierop erken het as een van haar aanvallers.
• Willkens moes Vrydag ook in die hof verskyn op ‘n klag van beweerde dronkbestuur. Dié saak is egter nooit op die hofrol geplaas nie.
