HAZYVIEW – ‘n Man het Donderdag bebloed by sy werk opgedaag nadat hy op pad terug na Rocky Drift in sy voertuig aangeval is.
Mnr. Pierre Maré het vertel dat hy na Hoedspruit onderweg was, maar moes omdraai omdat van die paaie weens die swaar reën onbegaanbaar was. Net voor Marite, het hy twee voertuie wat weerskante van die pad geparkeer was, opgemerk. Hy het nie onraad vermoed nie, aangesien ander motors soos taxi’s veilig verby- gery het.
“Die volgende oomblik het een van hulle dwars in die pad voor my ingedraai en toe ek stadiger ry, het ‘n groep mense op my toegesak,” vertel Maré.
Die aanvallers, wat ook kinders ingesluit het, het die bakkie met stokke en ysters geslaan en op ‘n stadium die voertuig begin rondruk. Maré sê hulle wou gehad het hy moes uitklim, maar hy het net vir ‘n wegkomkans bly soek.
Toe die kar wat die pad versper het, begin padgee, het Maré besef dat dit sy kans was. Toe die aanvallers egter sien dat hy wou wegkom, het hulle sy voertuig met klippe bestook en die agterruit en bestuurder se ruit het aan skerwe gespat.
“‘n Klip het deur die venster getrek en my teen die nek getref.
“Die radio is ook stukkend,” sê hy. Hy vertel dat ‘n vragmotor se voorruit ook stukkend gegooi is en dié het saam met hom in Hazyview stilgehou. Hy is reguit na die polisiestasie om ‘n saak te maak en ‘n saaknommer vir versekeringsdoeleindes te kry.
Daar gekom het beamptes hom aangeraai om eers behandeling vir sy wonde te kry. Maré het besluit om eerder Witrivier toe te ry en het daar ‘n dokter besoek, wat twee groot glasstukke uit sy nek en verskeie skerwe uit sy skouer verwyder het.
Hy het Vrydag met verbande en al by die Witrivier-polisiestasie ‘n saak geopen.
Die assessor het Maandag na die bakkie met sy stukkende vensters en vele duike kom kyk om die omvang van die skade te bepaal.
Maré vertel dat hy steeds nie seker is wat die groep wou gehad het nie. Hy moet hierdie week weer die pad Hoedspruit toe aandurf, maar is nou onseker watter roete veilig sal wees.
