CrimeNewsNews

Gauteng-paartjie het noue ontkoming

Die twee mense is aangeval en amper van hul voertuig beroof.

NELSPRUIT – Twee jongmense van Centurion is Vrydagaand hier so byna van hul voertuig ontneem.

Me. Nadine de la Guerre het aan Nelspruit Post vertel dat sy en haar kêrel, mnr. Leon Joubert, onderweg was om vir haar neef te gaan kuier toe hulle verdwaal het. Hulle was by die twee sirkels net buite Nelspruit op die Lydenburg/Sabie-pad, toe hulle gestop het om haar neef, mnr. Adam van Deventer vir aanwysings na sy plaas, Home of Ten Million Souls te skakel.

“Ons het verkeerd gery deur by die een sirkel na links uit te draai. Die pad loop daar dood. Dit was pikdonker en ons het omgedraai en dwarsoor die pad parkeer toe ons ‘n slag teen ons voertuig gehoor het. Dit is deur ‘n tweede gevolg.

“‘n Man was besig om ons met bakstene te gooi. Ons het dadelik weggejaag.”

Die paartjie kon by die BP-vulstasie Van Deventer skakel, en Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, J&M Sekuriteit en die polisie het spoedig gereageer. Hulle het later saam met mnr. Hennie Potgieter van Hi-Tech Witrivier na die toneel teruggekeer waar hulle twee mans sien hardloop en rye bakstene en klippe aan weerskante van die pad gewaar het.

Potgieter het gesê dat baie mense al in die spesifieke omgewing aangeval is en het motoriste gewaarsku om nie daar te stop nie.

“Die aanvallers wag tot hulle stilhou en gooi hulle dan met klippe. As mense uitklim word hulle aangeval. Daar moet padtekens aangebring word wat waarsku dat die area ‘n hoë misdaadsone is.” Die verdagtes word nog deur die polisie gesoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button