OPVOLG: Me. Christine Otto (75) kon na ure se gespook uiteindelik haar voete loswikkel nadat sy Donderdagoggend op haar plot by Burnside aangeval en wreed aangerand is.
Sy het met ‘n skêrtjie wat sy tussen haar tande vasgeklem het, die paniekknoppie gedruk en Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit ontbied. Beamptes in Hi-Tech se beheerkamer het, toe hulle die paniekseisoen ontvang, haar selfsoon geskakel. Een van die verdagtes het geantwoord en onder meer gesê dat “hulle die magogo moet gaan help”.
Mnr. Vernon Lancaster van Hi-Tech het ‘n klankopname van dié kort gesprek aan Laevelder beskikbaar gestel. Luister na dit hier:
NELSPRUIT – Familie en vriende van me. Christine Otto (75) is woedend nadat sy vanoggend buite haar huis in Burnside aangeval en ure lank gemartel is.
Sy is onder meer met ‘n strykyster gebrand en is vroeër vanaand na Nelmed Medicross gebring vir mediese behandeling.
Otto was omstreeks 09:00 op pad na haar voertuig buite om te ry na ‘n familielid se begrafnis toe drie gewapende mans haar oorval het.
Die mans het haar in die huis ingeboender en in die stort vasgemaak. Hulle het gevra vir die sleutels tot haar kluis, maar sy het gesê sy het nie een nie.
Die verdagtes het toe oorgegaan tot gruwelike geweld. Hulle het Otto aanhoudend met ‘n vuurwarm strykyster gebrand, met ‘n sweep geslaan en haar herhaaldelik in die gesig geslaan. Sy het uiteindelik toegegee en hulle gesê waar die sleutel was.
Die verdagtes het Otto vermoedelik geken of dopgehou. In ‘n poging om die mans die skrik op die lyf te jaag, het sy aan hulle gesê dat sy nie alleen in die huis is nie, waarop een se reaksie was: “Moenie vir ons jok nie, ons weet jou man is dood.”
Die verdagtes het eers vier ure later met drie van haar vuurwapens, haar voertuig – ‘n blou Kia Picanto – en juwele gevlug. Hulle het haar net so in die stort gelos en sy sou haarself na nog ‘n hele paar uur eers loswikkel.
Sy kon uiteindelik Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit ontbied. Reaksiebeamptes en ‘n paramedikus van hulle nuwe ambulansdiens is omstreeks 18:00 na die toneel.
Hulle het die polisie ontbied, wat na meer as ‘n uur se gewag steeds nie opgedaag het nie.
Otto, wat deur kennisse beskryf is as ‘n klein geboude vrou wat nie nonsens vat nie, het aanvanklik geweier om hospitaal toe te gaan, maar het later ingestem dat sy na Nelmed geneem word waar sy behandel is.
Sy het aan familielede gesê: ”Ek was op pad na ‘n begrafnis, maar amper was dit tyd vir my eie begrafnis.”
Sy sterk tans aan by haar dogter, Me. Estelle Conroy.
