LYDENBURG – Inbrekers het verlede op 14 Maart verwoesting by die Lydenburg Gholfklub gesaai en duisende rande se skade aangerig.
Volgens die klubbestuurder, mnr. Sybrandt de Fortier, het die alarm Vrydag omstreeks 01:00 afgegaan, en alhoewel die sekuriteitsmaatskappy, CCS, na die toneel gehaas het het hulle niks gewaar nie, vermoedelik weens die feit dat die inbrekers deur die dak geklim en die alarm ontkoppel het, het hy verduidelik.
Toe De Fortier egter Vrydagoggend by die werk arriveer, het hy onmiddellik onraad vermoed toe hy die alarm wou deaktiveer. “Die alarm het nie dieselfde klank soos gewoonlik gemaak nie en ek het gesien dat een van die vensters ook oop was. Ek het dadelik besef hulle het ingebreek,” vertel De Fortier. Die inbrekers het die ProShop se deur oopgebreek en al die geld uit die kasregister verwyder en ook skoene, pette en hemde gebuit.
Volgens De Fortier het hulle vermoedelik daarna na die kroeg gegaan en ook dié kasregister oopgebreek. ‘n Totaal van R3 000 kontant is gesteel. Hulle het verder ‘n televisie asook drank gesteel en selfs die pool tafel se slot oopgebreek om die muntstukke te verwyder Die beraamde skade beloop ongeveer R30 000 terwyl voorraad ter waarde van R40 000 gesteel is.
Niemand is nog in verband met die voorval vasgetrek nie. Indien iemand inligting hieroor het kan Sybrandt of Marlise by 071-140-1418 of 083-233-3639 gekontak word.
