
NELSPRUIT – ‘n Gewilde kuierplek in die stad is vroeg vanoggend geroof.
Die vrou wat die vorige aand se kasregister sou balanseer het die perseel om so 07:00 oopgesluit. Daar was ook twee skoonmakers. Die vrou is toe in haar kantoor deur twee gewapende mans gekonfronteer.
Hulle wou die kluis se sleutel gehad het. Hulle het haar glo met haar lewe gedreig en sy het die sleutels oorhandig. Die verdagtes het haar en een van die skoonmakers onder die lessenaar laat kruip en het met die kontant en ‘n skootrekenaar op die vlug geslaan.
Mnr. Nico Grobler van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het besighede gewaarsku dat oop- en toesluit tye riskant is vir hul besighede.
“Veral met ‘n plek wat so laat oop is, is daar nie geleentheid om die kontant te gaan bank nie. Rowers vat ‘n berekende kans dat die geld vroeg-oggend nog daar sal wees.”
Hy het mense aangeraai om die deure gesluit te hou as hulle kan, en hul sekuriteitsmaatskappye se hulp in te span op risiko-tye of wanneer hulle kontant vervoer.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. Lees meer in die volgende uitgawe van Laevelder.
