Inwoners vies oor aaklige grondpad
Inwoners se karre word beskadig omdat hulle elke dag 'n sinkplaatpad moet ry. Nou maak hulle hul stemme dik.
Inwoners van pad D1604, ofterwel die Hermansburg-afdraai op die Barberton-pad, maan dat die regering die grondpad moet gruis.
Die pad se ry-oppervlak is reeds só weggespoel dat die onderliggende rotse uitsteek en die pad nie meer veel geskraap kan word nie. Alhoewel
Maandag geskraap is, is dit steeds vol slaggate en geriffel.
“Ons karre word vreeslik deur die sinkplaatoppervlakte beskadig,”sê Nandi Maré. “Die elektroniese toestelle in ons karre wil somtyds nie meer werk nie.”
Maré het die saak al sewe jaar terug by die plaaslike munisipaliteit aangemeld, maar met min sukses. “Hulle hou aan om die pad te skraap, maar ná een reenbui is die gladde oppervlakte weer weggespoel. Dit moet heeltemalvan voor af gegruis word.”
Volgens Maré is die D1604-area ‘n “klein dorpie” op sy eie en verdien ‘n rybare pad.
Jennifer Shorman ry ook daagliks die pad en het verlede week ‘n klag by die departement van publieke werke, paaie en vervoer gaan aflê. Sy
open in Januarie ‘n skool vir behoeftiges en sê haar kliënte kan nie die pad elke dag op en af ry nie.
Volgens haar sukkel hulle al jare lank om die pad te laat gruis. “Ek dink nie ‘n teerpad is ‘n goeie idee nie omdat misdaad dan kan toeneem. Dit moet net gegruis word.”
Die pad is gedurende die naweek weer geskraap, maar met die somerreëns nog oppad, laat dit veel te wense.
Die pad is die verantwoordelikheid van die departement van publieke werke, paaie en vervoer, maar hulle kon nie vir kommentaar bereik word
nie.
