MBOMBELA – ‘n Vrou wat in 2010 tydens die Sokkerwêreldbeker deur twee ontsnapte gevangenes verkrag is, se eis teen die Departement van Korrektiewe Dienste het geslaag.
Uitspraak is onlangs in die Gauteng Hooggeregshof gelewer en daar is gelas dat dié departement aanspreeklik is vir alle skade wat sy kan bewys. Die eis beloop nagenoeg R5 miljoen.
Henry Surprise Mnisi (26) en Collen Klompie Makhubela, ook bekend as Given Sibusiso Mashego (25) was besig om tronkstraf uit te dien in Barberton se jeuggevangenis vir onder meer verkragting en poging tot moord, toe hulle op 17 Junie 2010 gedurende die wêreldbeker ontsnap het.
Hulle het by ‘n huis in Almeida, sowat agt kilometer buite Barberton, ingebreek. Hier het hulle ‘n vrou (31) aangetref en haar met boeie wat hulle in die huis gekry het, geboei. Mnisi het haar op die bed verkrag.
Lt.kol. Anton Crafford, wat toe aan die polisie se misdaadprosesseringseenheid op Middelburg verbonde was, het ten tye diens in Mbombela gedoen en is na die toneel ontbied.
Hy het Mnisi se DNS op die slagoffer gekry en dié van Mashego op ‘n vurk in die huis. Laasgenoemde het gesit en eet terwyl Mnisi haar verkrag het. Sy het hulle boonop positief as haar aanvallers geïdentifiseer. Hulle is kort hierna weer aangekeer.
Mnisi het op 11 September 2012 skuldig op klagtes van verkragting en huisbraak gepleit en Mashego op ‘n klag van huisbraak. Landdros mnr. Willie Wilken het Mnisi tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting, asook sewe jaar vir huisbraak. Mashego moet ook sewe jaar vir huisbraak uitdien.
Dit was nie die eerste keer wat Mnisi verkrag het nie. Hy was juis besig om 40 jaar tronkstraf daarvoor uit te dien toe hy ontsnap het. Dit is dan ook hoekom sy slagoffer van 2010 ‘n eis teen die departement ingestel het. Hy en Mashego was nie meer jeugdiges toe hulle in Barberton se jeuggevangenis aangehou is nie. Hulle moes inderwaarheid in die maksimum-sekuriteitsfasiliteit (ook op Barberton) aangehou word, maar daar was nie plek vir hulle nie.
Mashego het in 2004 ‘n polisieman geskiet en hom van sy vuurwapen beroof. Hy is destyds tot 45 jaar tronkstraf gevonnis. Mnr. Jaco Lindhout, die vrou se regsverteenwoordiger, het gesê dat hulle op die oomblik besig is om die eis saam te stel wat dan later by die hof ingedien sal word.
