MBOMBELA – Renosterstropery word uit verband geruk en stropers word té swaar vonnisse opgelê wanneer dit met die van ander misdadigers vergelyk word. Dié argument is vroeër die week tydens die vonnisoplegging van drie renosterstropers deur hul regsverteenwoordiger,
mnr. PJ Lourens, voor die hof gelê.
Hulle is Dinsdag in die Nelspruit Streekshof tot ‘n relatiewe kort tronkstraf gevonnis nadat hulle vanuit die staanspoor op ‘n klag van stropery skuldig gepleit het. Daar het slegs vyf weke verloop tussen hul arres en vonnisoplegging.
Thomas Risimati Mashele, Julio Khosa en Bright Chikupiro is op 26 Oktober gearresteer, kort nadat hulle ‘n witrenoster doodgemaak het. Die dier se horing is saam met ‘n jaggeweer, ammunisie, vier selfone, ‘n mes en ‘n byl in hulle besit gevind. Al drie beskuldigdes het dadelik skuldig gepleit.
Senior staatsadvokaat me. Isabet Erwee het Mashele, ‘n voormalige Mosambiekse veldwagter, oor die kole gehaal. “Dit is teleurstellend dat iemand wat ‘n beskermheer van ons diere moet wees, die een is wat sy rug op hulle draai en hulle doodmaak vir eie gewin.”
Erwee en die landdros, mnr. Willie Wilken, het die stropers daarop gewys dat hulle pleit tot ‘n versnelde regsprosedure gelei het. Hierdie feit het ‘n effektiewe vonnis van 10 jaar vir elk van die drie tot gevolg gehad. Dit word as ‘n kort vonnis beskou nadat al drie op vyf klagte skuldig gepleit het: onwettige betreding van Suid-Afrika, onwettige betreding van die Kruger Nasionale Park, die jag van ‘n beskermde spesie, die stroop van die renoster se horings en die onwettige besit van wapens en ammunisie.
Lourens het ‘n argument voor die hof gebring wat die afgelope tyd deur baie gemeenskapslede in reaksie op die veldtog teen renosterstropery opgeduik het. “Ek is lief vir diere,” het hy begin, “maar ek wil dit voor die hof plaas dat die vonnisse wat vir renosterstropers opgelê word nie proporsioneel tot ander misdadigers se vonnisse is nie. Wanneer ‘n mens die vonnisse opweeg wat vir stropers opgelê word en dit met moordenaars, aanranders, verkragters en bedrieërs s’n vergelyk, is dit myns insiens duidelik dat renosterstropery buite proporsie opgeblaas word.”
Hy het dit duidelik gemaak dat sy kliënte nie hul skuld ontken nie en wel berou toon vir hul dade, maar uitgewys dat een misdaad nie so bo ander misdade in ons regsisteem verhef behoort te word nie.
Landdros Wilkens het die drie ten slotte daarop gewys dat hulle vir parool aansoek sal mag doen nadat twee derdes van die vonnis uitgedien is.
Dit is egter nie ‘n waarborg dat parool toegestaan sal word nie. Al drie beskuldigdes is onbevoeg verklaar om in die toekoms weer ‘n vuurwapen te besit.
