CrimeHard newsNewsNews

Meer klagtes teen vermeende moordenaar

Mnr. Frans Mokoena word na bewering nie net in die Laeveld met misdade verbind nie. Sake van verkragting, roof, moord en poging tot moord is in Mbombela en Witrivier teen hom aanhangig gemaak, terwyl ander sake elders teen hom ondersoek word.

MBOMBELA – Mnr. Frans Mokoena wat verdink word van die moord en verkragting op die perde-veearts dr. Rensia de Wet, word met verskeie ander rooftogte en gewelddadige voorvalle in die provinsie verbind.  Hy sal op 23 Maart weer in die Nelspruit Streekshof op al die klagtes teen hom verskyn.

Mokoena is op 13 Desember gearresteer. Hy is in die gevangenis op Witrivier aangehou en op 13 Januarie is hy ook vir die verkragting, roof en poging tot moord van ‘n vrou in Matsafeni aangekla. Dit is met hierdie hofverskyning op rekord geplaas dat Mokoena tydens ‘n uitkenningsparade met die beweerde voorval in Matsafeni verbind is.

Beide landdroste, mnr. Eddie Mabaso van Witrivier Landdroshof en mnr. De Wet Oosthuizen van Nelspruit Landdroshof, het Mokoena daarop gewys dat die klagtes teen hom ernstig is en tot die oplegging van langtermynvonnisse kan lei. “Die staat staan die beskuldigde se borgaansoek teen aangesien hy in elk geval nog minstens drie jaar in die tronk moet bly nadat sy parool teruggetrek is,” het senior staatsadvokaat, me. Isabet Erwee bevestig.

Laevelder het vroeër berig dat Mokoena op parool was toe De Wet en die vrou van Matsafeni aangeval is. Mokoena se parool is teruggetrek en hy dien nou die oorblywende vonnis wat hom opgelê is nadat hy in 2011 in Mbombela aan verkragting skuldig beving is, uit.

‘n Betroubare bron het bevestig dat ‘n lasbrief vir Mokoena se arrestasie ook onlangs in eMalahleni uitgereik is. Die twee sake teen Mokoena is Maandag saamgevoeg. Volgens Erwee word sy betrokkenheid in ander ernstige misdade intussen ondersoek. “Mokoena het Maandag aangedui dat hy van ‘n private regsverteenwoordiger gebruik wil maak.” Hierdie besluit volg nadat hy aanvanklik aangedring het op mnr. Coert Jordaan as regsverteenwoordiger, waarna hy van ‘n regshulpraadprokureur sou gebruik gemaak het.

Lees ook:

Verdagte aangekeer vir moord op geliefde veearts

Mokena’s parole a thing of the past

Mokoena’s court appearance in White River – an update

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button