Motorhandelaar se moeilikheid land in die hof
'n Bakkie vol duike, 'n skulderkenningsooreenkoms, 'n besoek van die balju en 'n diefstalklag in een jaar. Mnr. Christo Coetzee moet op 8 April weer vir laasgenoemde in die Nelspruit Landdroshof verskyn.
MBOMBELA – “Dis alles een groot misverstand,” beweer ‘n plaaslike motor-handelaar wat onlangs in die Nelspruit Landdroshof verskyn het op ‘n klag van diefstal.
Mnr. Christo Coetzee het verlede Vrydag in die beskuldigde bank gestaan waar die landdros, mnr. De Wet Oosthuizen, die saak teen hom tot 8 April uitgestel het. “Die saak teen u word uitgestel vir verdere ondersoek,” het Oosthuizen gesê. “U borg word verleng tot dan en u word daaraan herinner dat geen kontak met staatsgetuies toegelaat word nie.”
Laevelder het Coetzee gekontak oor die klag teen hom. “Ag, dis alles eintlik ‘n groot misverstand,” verduidelik Coetzee. “Ek en ‘n sakekennis het baie geld aan ‘n Audi spandeer in ‘n poging om die kar reg te maak en die motor is by my gestoor, waarvandaan ons sou kyk of ons die motor of dele daarvan verkoop kan kry.
Ek kry toe ‘n derde persoon in wat die Audi kon regmaak. Hierdie persoon ry toe met die kar weg en nou word ek van diefstal aangekla.” Coetzee het nie die identiteit van hierdie derde persoon bekend gemaak nie.
Coetzee se hofverskyning het onder die aandag gekom van ‘n vorige klant wat hom tot die reg gewend het. Mnr. Desmond Rutzen het Laevelder meegedeel dat hy in 2014 ‘n koopooreenkoms via Whatsapp metCoetzee gesluit het. ‘n Bakkie vol duike is by hom afgelewer nadat die deposito van R5 000 betaal is.
“Die bakkie was glo in ‘n ongeluk op pad Mbombela toe. Christo is hier weg met die gestampte bakkie en sou terugkom met ‘n ander een. Ek het die koopprys betaal.” Rutzen se bakkie is tot vandag toe nog nie aan hom gelewer nie. “Ons het alles probeer om die koopprys terug te vorder.
Christo het ‘n skulderkenning onderteken vir die R65 000 wat hy my skuld. Hy het R25 000 daarvan betaal. Die balju het nou maar beslag gaan lê op sy goedere ter delging van die balans. Ongelukkig is sy goedere volgens hulle net R15 000 werd.” Rutzen het nie ‘n diefstalsaak teen Coetzee aanhangig gemaak nie.
