
MBOMBELA – Me. Christine Bruins, voormalige dagmoeder wat op klagtes van kindermishandeling en aanranding tereggestaan het, is Donderdag in die Nelspruit Streekshof onskuldig bevind.
Landdros mnr. André Geldenhuys het al vier getuies wat teen haar getuig het, se weergawes verwerp. Haar regsverteenwoordiger, mnr. Coert Jordaan, is tevrede met die uitspraak. “Geregtigheid het geseëvier,” het hy gesê oor die uiteinde van die saak wat begin het met ‘n ondersoek teen haar dagsorg-sentrum in 2010.
Bruins se dagsorgsentrum is tussen Julie 2000 en September 2010 bedryf. Sy het in 2007 ‘n assistent, me. Lettie Magagula, aangestel.
Die ondersoek teen Bruins se dagsorg-sentrum is geloods toe me. Janet Mtetwa, wat op daardie stadium drie maande in Bruins se huis gewerk het, met ‘n foto van ‘n kind vorendag gekom het wat in die sentrum met ‘n lapdoek vasgebind is. Twee vroue – ‘n me. van Heerden en ‘n me. Hills – het beweer dat Bruins hul kinders aangerand het. Die drie is saam met Magagula geroep om vir die staat te getuig.
Jordaan het tydens sy slotbetoog na die vier se getuienis terugverwys. “Die staat se getuies het hulself en mekaar weerspreek,” het hy gesê. Hy het spesifiek verwys na Mtetwa en Magagula se weergawes wat nie gestrook het nie. “Me. Hills het beweer dat haar kind met merke aan sy kop en rug van die dagsorg af teruggekeer het. “Dit het later in die hof uitgekom dat die kind hierdie merke opgedoen het toe hy tuis van die trappe afgeval en sy kop teen ‘n kraan in die bad gestamp het,” het hy onthou. “Mtetwa se weergawe is gemotiveer deur venyn en sy het Magagula by haar planne ingesleep,” het hy aangevoer.
Staatsaanklaer me. Magda Marais, het die hof nietemin versoek om Bruins aan beide aanranding en kindermishandeling skuldig te bevind. Geldenhuys het sy uitspraak voorbehou tot gisteroggend en Bruins is uiteindelik onskuldig bevind. Geldenhuys het die argument vir Bruins gelyk gegee deur te beslis dat van Heerden, Hills, Mtetwa en Magagula se weergawes verwerp word.
Bruins en haar gesin het intussen na Pretoria verhuis, maar sy was vir die uitspraak teenwoordig.
Lees ook: Christine Bruins in die Nelspruit Streekshof
