Rooikat daag self by veeartse op om hulp te kry
Interessant genoeg het Camacho presies ‘n jaar gelede - ook op Goeie Vrydag - ‘n tierboskat uit die dorp verwyder.

LYDENBURG – ‘n Rooikat het op Goeie Vrydag by die regte plek om hulp aangeklop. Die dier het Vrydagmiddag op ‘n manier by die veeartse drs. Jac en Hestia Brink se erf ingekom. Brink vertel dat hulle dié wildekat die oggend in hul tuin opgemerk het waar sy agter ‘n bos geskuil het.
“Ons worshond het baie geblaf en dis toe dat ons die kat sien. Ons het vir Gerrie Camacho, plaaslike roofdierkenner in kennis gestel, maar hy kon nie uitkom om die kat te verdoof nie,” verduidelik Brink. Die Brinks het toe self die wyfiekat verdoof toe sy agter ‘n bos by die swembadfilter skuiling geneem het en haar Sterkspruit Dierekliniek toe geneem waar Brink ‘n veearts is.
Terwyl die dier onder verdowing was, het sy vrou vasgestel dat daar ‘n massa in die kat se pens is. “Die massa wat ons in haar pens gevoel het, was mielies, stukkies plastiek en ander gemors. Dit het met haar stoelgang uitgekom en sy het sedertdien gewig opgetel.” Donderdag, voor die kat by die Brinks se erf opgedaag het, het Camacho egter nog ‘n rooikat uit ander mense se erf verwyder. Die kat was ook ‘n wyfie.
Camacho meen dat dit wel dieselfde kat kan wees wat weer teruggekeer het ná hy haar in Sterkspruit se natuurreservaat losgelaat het. “Die kat is moontlik mense gewoond – nie mak nie – maar bekend met mense. Ek sou dink dat dit ‘n kat is wat iemand aangehou het en agtergekom het dat die dier nie mak word nie en die kat het toe óf uitgekom óf is uitgelaat. Ek is seker as ek die dier sien, kan dit wel dieselfde kat wees wat ek die vorige dag verwyder het.”
Brink stem saam met Camacho se verduideliking dat die kat moontlik iewers deur mense aangehou is. Die kat gaan Woensdag na die Moholoholorehabilitasiesentrum vir wilde diere geneem word waar sy, as sy weer ten volle herstel het, vrygelaat gaan word. Camacho meen dat die kat nie ‘n probleem sal hê om weer in die natuur te leer oorleef nie.Hy sê dat haar instinkte sal inskop en dat sy weer sal kan jag. Interessant genoeg het Camacho presies ‘n jaar gelede – ook op Goeie Vrydag – ‘n tierboskat uit die dorp verwyder.
Verwarring bestaan oor die naam van die rooikat weens verwarring met ander katte soos die los (Eng. lynx) en die “bobcat” omdat die rooikat ook al as die “lynx’’ caracal bekend gestaan het. Die rooikat deel ‘n paar unieke eienskape met die los. Hulle het albei 30 tande waar die meeste katte net 28 het. Die rooikat is nader verwant aan die Felis serval (tierboskat) as aan die Felis lynx of die Felis rufus (die Engelse “bobcat”, ook bekend as die rooilos). Die rooikat word as een van die mooiste wildekatte beskou.
Hulle word herken aan hul rooibruin (taankleurige) pels en lang swart haartossels aan die punte van die ore en kort dik stert. Die gesig van die rooikat word belyn deur ‘n swart streep wat vertikaal deur elke oog loop, en deur sy wit ken en swart bolip. Die agterpote van die kat is heelwat langer as die voorpote. Die rooikat is ‘n mediumgrootte grasieuse kat, wat groter as die wildekat en kleiner as die luiperd is. Die rooikat se skouerhoogte is tussen 40- en 45 sentimeter. ‘n Volwasse mannetjie weeg so 17 kilogram en die wyfie sowat 11,5. Die rooikat is soepel en kragtig met lang bobene en skerp intrekbare kloue gebou.
