Editor's choiceHard newsLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Hy wou net bobotie hê, toe vang hy byna ‘n baba

Provinsiale nooddienste het nie hulle telefone geantwoord nie en 'n staatshospitaal weet nie waar Rocky Drift is nie.

ROCKY DRIFT – Willem van der Merwe van Johannesburg was eenvoudig op die regte tyd op die regte plek. Toe hy verlede Donderdagaand by Wallas Pub & Grill vir ‘n bobotie en ‘n yskoue bier stilhou, het hy nie verwag om as ‘n held daar uit te stap nie.

Terwyl ‘n groepie mense heel gesellig gesit en kuier het, het ‘n man histeries by die kroeg ingehardloop en in gebroke Engels om hulp gevra. Dit was duidelik dat dit ‘n noodgeval was. Die man het die kok, Sipho Malele gevra om ‘n ambulans te bel. Toe die groepie ondersoek instel, het hulle gevind dat die benoude man se vrou buite in kraam was.

“Die meeste klante het vinnig verdwyn en my alleen saam met die vrou gelos,” het ‘n getuie, Lynette Brink, gesê. “Ons het die provinsiale nooddienste probeer bel om haar na ‘n staatshospitaal toe te neem, maar hulle het nie die foon geantwoord nie. Ons het toe Themba Hospitaal geskakel, maar personeel daar het nie eens geweet waar Rocky Drift is nie. Toe bel ons maar vir Hi-Tech Witrivier wat dadelik ‘n reaksievoertuig uitgestuur het. Hulle was baie behulpsaam maar die beampte kon die vrou egter nie hospitaal toe vervoer nie omdat hy nie paramediese kennis gehad het nie.”

Brink sê hulle het daarna vir ongeveer nog ‘n uur lank probeer om die provinsiale nooddienste in die hande te kry, sonder enige sukses. “Dit was naderhand duidelik dat die baba enige oomblik sy verskyning sou maak. Ek was heeltemal uit my diepte uit,” het sy vertel. “Babavang is nou nie juis my ding nie.” Van der Merwe, ‘n verkoopskonsultant vir Vulcan Catering Equipment in Johannesburg, wat in die Laeveld was vir sake en die krisis gade geslaan het, het toe sonder om ‘n woord te sê uitgestap, sy Audi nadergetrek en gesê: “Laai haar in”.

Hy het toe met die vrou, haar man en Malele, na Themba gejaag. Laasgenoemde moes hulle vergesel om as tolk tussen Van der Merwe en die ouers op te tree, asook om vir hom te wys waar Themba is.

“Voordat hulle nog behoorlik die leêr ingevul het, is die baba gebore,” het Brink bygevoeg. “Hulle het dit met etlike minute gemaak.” Die ouers was so dankbaar vir die hulp dat hulle besluit het om die kleinding na hul weldoener te vernoem.

Klein Willem van der Merwe Vilikazi is omstreeks 22:00 Donderdag gebore.

“Dit was nie vir my so ‘n groot storie nie,” sê die beskeie held Van der Merwe. “Ek wou net stop vir bobotie en ‘n bier. Ek het nie gedink ek sou die aand afsluit met die toevoeging van ‘n naamgenoot nie!”

Brink het Maandag vir klein Willem onder oë gekry. “Hy is spekvet en gesond en ‘n rustige baba! Eenstopdiens – dis wat klante by Wallas te wagte kan wees!”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button