MBOMBELA – ‘n Rugby-speler van Hoërskool Bergvlam is Saterdag in die hospitaal opgeneem nadat hy ‘n harde stamp op die bors gekry en hartprobleme ondervind het. Wat sy ouers meer ontstel, is dat hy na bewering nie eens die bal gehad het toe hy deur ‘n opponent getakel is nie.
Bergvlam en Penryn se tweede spanne het dit Saterdag op laasgenoemde se velde vir ‘n plek in die Mpumalanga-finaal uitgespook. Die Bergvlam-speler is nog minderjarig en word op versoek van sy ouers nie geïdentifiseer nie.
Volgens sy ma het hy ‘n stamp met ‘n knie op die bors gekry. Hy het na bewering probeer om die skeidsregter se aandag te trek, maar kon nie en het toe maar van die veld gestap. “Toe sak my kind langs die veld inmekaar.”
Hy is in Kiaat Privaat Hospitaal opgeneem waar toetse gewys het dat die impak bloedvloei na sy hart tydelik gestaak het.
“Rugby is besig om in ‘n boksgeveg te ontaard. Hy is net veronderstel om homself te geniet en uit te leef in die sport.”
Sy het Bergvlam se hoof me. Annemarie Kleynhans en afrigter JP Erasmus geloof vir hulle ondersteuning. Penryn het by navraag gesê hulle het die voorval ondersoek.
“Dit is jammer dat die speler beseer is, maar ons kon geen bewyse vind dat dit enigiets meer was as ‘n besering wat in die normale gang van die spel opgedoen is nie,” het me. Susanna Oosthuizen, ‘n woordvoerder van Penryn, gesê.
“Penryn College keur nie onnodige aggressie in sport goed nie en volg streng prosedures waar voorvalle aangemeld word.”
- Lees Penryn College se volledige antwoord hier.
- Lees hier meer oor rugbybeserings: “Besering kry nie rugby uit sy bloed“
